Carla van der Spuy en Rina Venter. Rina lees al jare Carla se boeke en artikels.
In haar navorsing vir boeke, het Carla van der Spuy selfs met moordenaars onderhoude gedoen, maar was daar altyd die lig aan die einde van die tonnel met hoop.
Sy was die hoofspreker tydens die bemagtigings-oggend by Olifants River Lodge, wat aangebied is deur 3:16 Ministries.
Carla het die praatjie op ’n ligte trant begin deur te sê dat sy navorsing vir haar boeke in die tronk gedoen het.
“Maar ek is darem gewoonlik dieselfde dag vrygelaat. Eintlik is ek nou uit op parool!”
Die volgende paar dae gaan daar ’n reeks berigte wees oor Carla se praatjie op ons webblad.
Hier is die eerste in die reeks, wat ‘n bietjie agtergrond gee oor hoe sy uitgekom het daarby om te skryf oor die ‘onderwêreld’.
Moordenaars lyk nie soos moordenaars nie
Carla het gesê dat sy al probeer het om ander genres aan te pak, “maar die uitgewers het besluit ek hoort in die onderwêreld.”
Sy het vertel hoe sy met haar navorsing agtergekom het “dat enigeen van ons ’n moord kan pleeg. Ek, jy, enigeen. Menslike gedrag en misdadige gedrag is onvoorspelbaar.”
Carla het dit duidelik gestel dat ’n moordenaar nie noodwendig lyk soos ’n moordenaar nie.
“Hulle lyk nie soos die duiwel in die Kinderbybel of iemand wat met gemak ’n byl kan rondswaai nie. Hulle lyk soos doodgewone mense. Soos jou buurman of jou dogter se matriekafskeid date. Kyk maar na Jeffrey Dahmer – hy het so bedrieglik gewoon gelyk.”
Haar boeke oor die onderwêreld het begin toe Lapa Uitgewers haar gevra het om ’n boek oor misdaad te skryf.
Sy onthou dat sy ’n storie vir die Vrouekeur geskryf het oor 11 gevangenes by die Losper Gevangenis in Brits wat ’n teenmisdaadorgansisie buite die tronk gestig het. “Geweldsmisdadigers – moordenaars, kapers en verkragters.”
Sy het hulle in die tronk se kapel ontmoet.
“Hulle het in ’n halfsirkel om my gesit, maar ek het baie veilig gevoel.”
Een van die mans het vermoedelik sy hele familie uitgemoor. Nog een het sy meisie uit jaloesie geskiet. ’n Ander een wat dronk was, het ’n rassistiese moord gepleeg deur heen en weer oor ’n man te ry.
“Daar is geen rassisme in die tronk nie. Almal is in dieselfde bootjie.”
Wat haar opgeval het, is dat hulle almal baie sjarmant was en kon sy byna nie glo dat hulle sulke wrede misdade gepleeg het nie.
* In die volgende berig is daar meer oor haar eerste boek: ‘Mens of Monster.’
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!
Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express.
In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career.
As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.