Man wat kettingsaag probeer steel en homself ontbloot, nie aangekla
Slagoffers wil nie sake maak nie.
‘n Man wat gister ‘n kettingsaag in ‘n erf in Dennesig probeer steel het en homself later ontbloot het aan ‘n meisie, is nie aangekla nie, omdat niemand sake wou maak nie.
Lede van die Sektor 4 Radiogroep was moedeloos, omdat hulle so baie moeite gedoen het om die verdagte vas te trek, maar hy later weer skotvry in die strate geloop het.
“Die munisipale polisie het hom laat gaan, want niemand wou sake maak nie,” het een van die lede, wat anoniem wil bly, gesê.
Die Sektor 4 lede het blitsig gereageer toe daar op hul WhatsApp noodgroep ‘n noodroep was dat daar ‘n verdagte in hul erf in President Brandstraat (Dennesig) was.
Na wat verneem word, was die verdagte reeds in die erf en het ‘n kettingsaag gebuit.
Die tuinier het hom gesien en op hom geskree, waarop hy die kettingsaag neergesmyt en weg gehardloop het.
‘n Ent verder het ‘n man en ‘n vrou in die straat opgeloop gekom en het dieselfde verdagte sy broek losgemaak en homself ontbloot, voor hy verder gehardloop het.
By die Dennesig dammetjies het lede van die Sektor 4 Radiogroep hom vasgetrek na aanleiding van die beskrywing wat hulle gekry het.
Hy het weer sy broek losgemaak en sy geslagsdele ontbloot.
Hulle het hom gevra waarom hy dit doen, waarop hy gesê het dat sy geslagsdele kwansuis seer is.
Daar is ‘n lang verlengkabel by hom gekry.

Lede van die munisipale polisie, wat uitgekom het na die toneel, het hom in hul voertuig gelaai, maar moes hom later laat gaan, omdat niemand sake wou maak nie.
“Die mense in wie se erf hy was en wie se kettingsaag hy probeer steel het, was bly hulle het geen skade gely nie en besluit om nie ‘n saak te maak nie. Die ander mense aan wie hy hom ontbloot het, het hom jammer gekry omdat sy geslagsdele kamtig seer is.”
Die persone wat die verdagte vasgetrek het, sê dit maak hul werk baie moeilik.
“More is daardie selfde ou weer in jou erf en steel weer of ontbloot hom aan jou kinders, of erger nog, maak iemand seer. Wat dan?” is daar bekommerd gesê.
- Dit is ‘n algemene probleem wat noodgroepe en sekuriteitsfirmas ervaar wanneer hulle verdagtes vastrek, dat die slagoffers nie sake wil maak nie. In bykans al die gevalle, keer die misdadigers net weer terug om te steel of te roof.
