Kleuterskool loop deur onder stoute kabouters
Daar is gedurende die vakansie twee keer op een dag by Kleuterskool Kabouterland ingebreek.
Me. Sanet Janse van Rensburg (hoof) het die inbrake, wat op 3 April plaasgevind het, bevestig.
“’n Mens verwag nie iets soos ’n inbraak by ’n kleuterskool nie! Gelukkig het ons met die vinnige optrede van Mid Alarms darem die sonpanele, wat opgesit is net voor die skool gesluit het, teruggekry.”
Die boewe het omstreeks 16:45, kort voordat beurtkrag verby is, by die skool ingebreek.
Tydens dié inbraak is een van die onderwyseresse se televisie in die klaskamer gesteel.
Mid Alarms was blitsig op die toneel, maar die booswigte het weggekom.
Later die nag het die alarm wéér afgegaan en het Mid Alarms na die toneel gejaag.
Die boewe het weg gekom, maar die sonpanele is nog op die perseel gekry. Een van die panele is naby die hek opgetel.
Me. Janse van Rensburg sê sy is oortuig daarvan dat daar meer as een dief moes gewees het, aangesien die sonpanele baie swaar is. Sy glo hulle moes ook met ’n voertuig gekom het.
Buiten die televisie en sonpanele wat gesteel is, het die diewe ook skade aangerig.
“Kleuterskole is afhanklik van fondse en nou moet ons al die skade herstel! Kabels is geknip om die hek oop te kry en die elektriese hek is ook beskadig.”
