Isabel se gedig: “Ek is ’n storie in iemand anders se boek”
Isabel Smith, die graad nege leerling van Hoërskool Middelburg wat Dinsdagaand oorlede is, was ’n talentvolle skrywer.
Een van haar gedigte, wat sy twee jaar gelede geskryf het, is opgeneem in die tweede uitgawe van die digbundel, “Inkspraak”.
Haar familie het toestemming gegee dat ons die gedig, getiteld; “Net een leeftyd” kan publiseer.
“Ek is ’n storie in iemand anders se boek
of hulle my sien of hulle my soek.
Ek is daar
ek is een uit ’n miljoen en ek is daar en ek is raar.
’n Legkaart. Dis wat ons lewe is
wees net betrokke en vermy om dinge te mis.
Dis jou keuse hoe jy jou lewe spandeer
leer en probeer, al kry jy soms seer.
Een leeftyd klink nogal lank
al proe die lewe partykeer frank.
Leef tot jy liefde vind
totdat twee harte kan bind.
Vat jou vriende en wees spontaan
en laat jou lewe in vreugde voortgaan.
Lewe maak soms seer
dan verloor ons soms beheer.
Wees net gelukkig en vry
want mooi mense is wat jy terug kry.
Sien die mooi in elke dag
soos die mense, diere, liefde en prag
hoe elke wonderwerk vir ons wag.”
• Isabel se begrafnis is volgende Donderdag, 20 April, om 11:00, uit die Corpus Christi gemeente.
• Die gesin bedank elke persoon vir ondersteuning deur middel van gebede, oproepe, boodskappe en etes.
