“Wêreld was net te klein vir Isabel”
Isabel Smith, die sestienjarige meisie wat Dinsdagaand haar eie lewe geneem het, is nié geboelie nie.
Sedert die berig verskyn het op die Middelburg Observer se webtuiste, het talle mense op Facebook kommentaar gelewer en die aanname gemaak dat sy geboelie is.
Haar stiefma, Angelique, het vanoggend gesê dat hulle Isabel se selfoon deurgegaan het en geen tekens gekry dat sy op sosiale media geteister of geboelie is nie.
Hulle glo sy sou ook vir hulle gesê het as iemand haar persoonlik geboelie het.
“Isabel was inteendeel geweldig gekant daarteen. Sy het juis ’n meisie gehelp wat geboelie is en hulle het groot maats geword.”
Lees ook:
Me. Smith onthou selfs een boodskap wat ’n dogter in Isabel se klas se ma vir haar gestuur het.
“Sy het vir my vertel dat haar dogter geen maats gehad het toe sy haar graad nege jaar saam met Isabel begin het nie. Isabel het haar dadelik oor haar ontferm en hulle het maats geword. Isabel het soveel kinders se lewens aangeraak.”
Me. Smith onthou dat Isabel jare gelede geboelie is in die laerskool, maar dat sy daaroor gepraat het en dit is vinnig uitsorteer.
“Isabel het so ’n hart vir die kinders en mense gehad. Sy was so beautiful. Die wêreld was net te klein vir haar.”
