Bergskilpad gered na man hom wou verkoop
Iemand het gedink hy gaan ’n skilpad partytjie hou, waar elkeen sy eie dop bring. Gelukkig vir Skillie het Bernard van der Berg daarvan te hore gekom.
Bernard (voorsitter, Middelburg Dierebeskermingsvereniging) het inligting gekry dat iemand op die hoek van Cowen Ntuli- en Wesstraat met ’n skilpad in sy hande staan.
Die persoon het vir al die motoriste wat by die verkeerslig gestop het, die skilpad gewys dat hy dit wil verkoop.
Hy het lede van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 gekontak om hom by te help, sodat die skilpad verwyder kan word.
Bernard het ook die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap (ou Parkeraad) in kennis gestel.
Met hul aankoms by die man, wou hy die skilpad verkwansel vir R200.
Bernard het gesien dit is ’n bergskilpad en die man daarop gewys dat hy nie in besit mag wees van die skilpad nie.
Dit is onwettig om sonder ’n permit ’n inheemse spesie soos skilpaaie aan te hou en skuldiges kan aangekla word en tronkstraf of boetes opgelê word.
Bernard sê dit is duidelik dat die skilpad al ’n rukkie aangehou is, omdat hy baie ‘mak’ voorkom. “Hy het nie eers sy dop teruggetrek of geepad toe ons hom moes hanteer nie.”
• Die DBV het die volgende dag die skilpad na die Birds of Prey-rehabilitasiesentrum op Dullstroom geneem, waar daar gepoog sal word om hom te rehabiliteer om later weer in die natuur vrygelaat te word.
• Die man wat die bergskilpad gehad het, het gesê dat daar baie van dié skilpaaie in die omgewing was waar hy hom in Avalon gevat het.
