Ma vlieg vanaf Skotland om dogter se begrafnis by te woon
Jackie Smith, Isabel se biologiese ma, kan nie glo haar ‘Bella Bokkie’ is dood nie.
Isabel (16) is verlede Dinsdag dood in haar kamer gekry, nadat sy haar eie lewe geneem het.
Me. Smith het die joernalis uit Glasgow, Skotland, gebel “om my deel te vertel van my kind.”
Weens omstandighede kon sy haar die afgelope tyd nie sien nie.

“Ek is haar ma! Ek wens mense wil stop om allerhande goed op sosiale media te sê, al is dit net uit respek vir Bellatjie. As julle enigiets wil weet, stuur vir my ’n boodskap en ek sal julle antwoord, maar hou asseblief net op!”
Haar hart is aan stukke gebreek toe sy Woensdagoggend die boodskap gekry het dat haar jongste kind dood is. “Dit is oral op sosiale media uitgeblaker dat sy dood is, voordat ek die volgende oggend daarvan in kennis gestel is!”
Sy gaan Dinsdag (more) van Skotland na Suid-Afrika vlieg, om Donderdag die begrafnis by te woon.
“Ek kom Suid-Afrika toe om my Bella op haar voorkop te soen en te groet, finaal afskeid te neem. Donna Taggert se Jealous of Angels sal gespeel word op haar begrafnis, die woorde is so gepas.”

As sy uitgevra word oor Isabel, begin me. Smith bitterlik huil.
“Bella was my álles. Sy was my ou Valentynsbabatjie wat ek normaal in die lewe gebring het. Ek het soveel drome en planne en die beste intensies vir haar gehad. As sy net teenoor my oopgemaak het, kon sy dalk nog geleef het. Hoekom sou my kind ’n serp om haar nek gesit het? As sy hier was, sou sy gelukkig gewees het, ek sou haar in katoen toegemaak het. Dit moes nie gebeur het nie!”
Me. Smith vertel dat die hele gesin sewe jaar gelede Skotland toe sou verhuis. Die kinders het selfs ses maande vir haar kom kuier.
Die planne het egter nie uitgewerk nie.

Sy onthou hoe sy haar japon, wat sy met parfuum gespuit het, vir Isabel gegee het. “Met ’n kuiertjie het ek gevra of sy nog met hom slaap en het sy gesê sy slaap elke aand met hom. Ek het weer parfuum daarop gespuit, toe ons mekaar die laaste keer gesien het.”
Isabel het grootgeword in Middelburg en me. Smith vertel trots hoe Isabel al in Laerskool Staatspresident C.R. Swart presteer het.
Vandaar is sy na Hoërskool Middelburg.
“Ek het altyd haar prestasies op rapporte gesien.”

Me. Smith sê as sy dink aan Isabel, dan “sien ek energie. ’n Kind met die mooiste persoonlikheid. Sy was ’n flambojante meisiekind. My Bella Bokkies, my blommetjie se lewe was te kort op hierdie planeet. As sy net vir my kon sê: ‘Mamma kom haal my,’ dan was ek op die eerste vliegtuig om haar te gaan haal.”
Dit is die tweede kind wat sy aan die dood afstaan.
“My oudste seun, Jean-Pierre, het leukemie gekry en is op ses jaar oorlede. Dit was baie erg, maar Bella se dood is nog seerder. Ek sien die son skyn buite en die blou lug, maar binne in my is dit swart. Hierdie ma is aan stukke, niks kan my méér breek nie.”

Me. Smith het gesê dat mense elke dag die beste moet maak, want dit is binne ’n oogwink verby.
“Bella is nou vir altyd by my, binne in my en ek het haar oneindig lief. Die Here moet my net krag en genade gee om my Baby te gaan begrawe. Haar te gaan soen, en dan terug te kom. Bella Bok is nou my engel.”
• Me. Smith het verskeie foto’s gestuur van Isabel vanaf kleintyd tot die mees onlangse foto’s wat sy van haar pragdogter gekry het.
• Die begrafnis is Donderdag om 11:00 uit die Corpus Christi gemeente.
