Jong inwoner se keel byna afgesny
Een man is doodgeslaan, ten minste drie het ’n oog verloor en verskeie moes steke kry, omdat hulle met bottels gesteek is, maar gevegte op die dorp hou nie op nie.
Groot geheimhouding heers tans nadat die helfte van ’n jong man se keel byna afgesny is by ’n kuierplek. Al die betrokkenes en die slagoffer wou nie oor die voorval praat nie. ’n Foto wys egter ’n lang en diep sny aan sy keel.
Daar is betroubaar verneem dat ’n aanrandingklagte geopen is.
En oor die Paasnaweek het die vuiste wéér geklap by ’n ander kuierplek en is die betrokkenes polisie toe vir aanrandingsklagtes.
Oor die jare is Middelburg geruk deur een geveg na die ander waar mense tot in die hospitaal geslaan is en nog een (Louis Groenewald) doodgeslaan is.
• Op 13 November 1987 is Chris Reynierse in die gesig geslaan met ‘n bierglas by die destydse JB’s (later Libra) toe hy bakleiers, wat sy vriend aangeval het, uitmekaar probeer maak het.
Sy regteroog is so erg beseer, dat dit wat oor was in sy oogkas die volgende dag in die Jakaranda Hospitaal verwyder is. Tot vandag toe weet hy nie wie het hom met die glas geslaan nie.
• In 2006 is Skillie van der Merwe se regteroog vier maande later verwyder, nadat hy by die Tracers kuierplek met die vuis op die oog geslaan is.
Hy wou bakleiers uitmekaar haal en een het hom met die vuis op die oog geslaan. Sy oogbal het gebars en hy het dadelik géén sig gehad nie.
Alhoewel die saak hof toe is, het die landdros dit uit die hof gegooi, omdat dit vir hom gelyk het na ‘n kroegbakleiery.
• In Maart 2013 is Louis Groenewald ‘n dag nadat hy met een vuishou deur Freddie Kidson naby Sideline nagklub katswink geslaan is, dood weens breinbloeding. Kidson is ‘n opgeskorte vonnis opgelê.
• In April 2013, is Antoon Viljoen bebloed geslaan by Amazon’s Restaurant.
• In Julie daardie selfde jaar moes Jaco Weyers steke kry, nadat hy ‘n gapende wond aan sy kop opgedoen het by die Suits kuierplek. Hy het gedink hy het geval, maar ‘n vriend het later gesê dat hy gestamp is en met sy kop teen ‘n pilaar en trapreling geval het.
• In September 2014 het Dewald Jacobs in sy matriekjaar selfmoord gepleeg, nadat hy deur twee mans buite Burger Hut aangerand is. Die vernederende aanranding is op videokamera vasgelê.

• In September 2016 moes mnr. Ferdi van den Berg ‘n operasie aan sy oogbank ondergaan, nadat hy by die Middelburg Buiteklub aangerand is.
• In Junie 2018 word Abri Beukes só erg aangerand in die Suits kuierplek, dat hy ‘n operasie in die Wilgers Hospitaal moes ondergaan. Sy wangbeen moes met plate weer op sy plek geskuif word weens ‘n ernstige fraktuur en sy oogbank en die been in sy wenkbrou is gekraak.

• In September 2019 is Riaan Bezuidenhout en Bret Alberts by die Tracers Biker Bar aangerand. Mnr. Bezuidenhout het ’n gebreekte kakebeen en harsingskudding opgedoen en mnr. Alberts het behandeling gekry vir snymerke bo sy linkeroog en harsingskudding.
• In Maart verlede jaar is Dirk Kotze se oog byna heeltemal uitgeruk toe hy met ’n glas in die gesig geslaan is in die parkeerarea naby Hoofkantoor. Hy wou ’n geveg stop en is van die kant af met ’n glas geslaan

• Etlike maande later is Coenraad Oosthuizen se kakebeen op twee plekke gebreek na ’n vuishou en moes sy kakebeen met ’n plaat geheg word. Die geveg was buite die Oppi Plaas kuierplek.
• In Julie 2022 is die talentvolle sportman, Bowen Kruger, ook met ’n glas in die gesig geslaan. Sy hoofslagaar is net gemis en hy moes steke kry.

