Spelers is slaggereed vir Vrydagaand se weersien
Alles is slaggereed vir Vrydagaand (21 April) se reünie van oud Suidoos-Transvaal spelers tydens die Curriebeker kragmeting tussen die Pumas en Westelike Provinsie in Nelspruit.
Van die 1983 span wat die WP met 24-19 geklop het, het Jan Loubser, Gert la Grange, Hendry van Tonder, Terence Moll, Frank Sullivan en die kaptein Richard Cooke, laat weet dat hulle in die Mbombela Stadion gaan wees.
’n Interessante gesig in die groep gaan die dokter wees van daardie spanne, dr Johan Kotze.
En dan gaan die voorry van Kriel wat sy plek oopgespeel het tot in die Suidoos span en saam met onder andere Fanie Vermaak gesak het, die karakter Jan Erasmus, ook vele van sy kleurryke staaltjies deel.
Ongelukkig kan die twee slotte van die 1983 wedstryd, Vleis van Zyl en Bertus van Eeden, nie die reünie bywoon nie.
Die oud Suidoos-Transvaal spelers gaan ’n tonnel vorm wanneer die Puma span op die veld draf.
Spelers moet reeds om 15:30 in die presidentslosie wees waar hulle onthaal gaan word. Hulle sal om 16:15 na die veld stap.
Spelers wat by Indabusche in die Schoemanskloof bly, vertrek om 14:00 na die Mbombela Stadion.
Daar is parkering en kaartjies vir die spelers wat vanaf Woensdag by die stadion se kaartjiekantoor afgehaal kan word of vanaf Vrydagoggend by die Shell-garage by die Halls padstal.
