News

Insittendes van wit Fortuner bestook huise met klippe en eiers

’n Wit Fortuner D4D met ’n klomp jong mense binne het Maandagaand inwoners van Gotwani- en Skurwebergstraat geterroriseer en minstens nege huise met klippe bestook.

Volgens mnr. Quintin Coetzee, het hulle WhatsAppgroep Maandagaand net na 20:00 aan die gons gegaan, toe ’n vrou aanvanklik gedink het daar word op haar huis geskiet.

Me. Belinda Grové, het vertel hoe sy en haar 13-jarige dogter besig was om televisie te kyk, toe hulle “skote hoor klap”.
“Die volgende oomblik was dit net glasstukke en my dogter het geweldig begin huil en aan die ruk gegaan.”

Belinda het die “skote” dadelik op die groep aangemeld en ’n paar minute later, het ’n inwoner uit Skurwebergstraat, wat toevallig haar kollega is, laat weet dat daar ook op haar huis “geskiet” is.

“My pa, wat nie ver van ons af woon nie, het na ons toe gehaas en ons is na buite om ondersoek in te stel, en het twee klippe in die erf opgetel. Dit was grys klippe wat gebruik word om mee tuin te maak.”

Belinda vertel dat haar dogter geweldig getraumatiseer was na die voorval en aanvanklik gedink het daar word op hulle geskiet.
“Sy het skaars tot ruste gekom toe ons weer die skote hoor toe hulle my kollega se huis ook met klippe bestook.”

Belinda se kollega, Charlene Jacobs, het vertel dat sy besig was om haar driejarige seuntjie aan die slaap te maak toe sy ook die “skote” hoor.

“My seuntjie se venster kyk oor die pad uit en is al venster wat mens van die straat af kan sien. Ek het agter hom gelê, en hy was gelukkig aan die slaap toe die voorval plaasgevind het.”
Charlene het dadelik haar man, wat saam met hulle negejarige dogtertjie in haar kamer besig was, se aandag getrek.

“My dogtertjie was vreeslik bang en geskok omdat sy wakker was en ook gedink het daar word op ons geskiet.”
Dit was eers nadat hulle hulle ook na die WhatsApp-groep gewend het waar gesê is dat klippe gegooi is.

“Ons het toe besluit om onsself met ons kinders in die kamer toe te sluit, want ons het gedink dis moontlik boosdoeners wat later wil terugkeer om ons te beroof.”

Charlene sê dat die klippe nie die kamervenster gebreek het nie, en dat sy dankbaar is omdat die klip haar seuntjie sou tref in sy bed, wat teen die venster is.

Beide sy en Belinda het gesê dat die klipgooiers dit moontlik snaaks gevind het maar dat iemand baie seer kon kry.

“Dit gaan nie oor die kostes of die skade nie, maar my kind is getraumatiseer as gevolg daarvan,” sê Belinda.

Charlene het bygelas dat hulle kinders steeds by hulle slaap omdat hulle bang is die groep keer terug om weer klippe te gooi.

Mnr. Coetzee sê dat daar deur die loop van Sondag- en Maandagaand minstens drie huise in Skurweberg- en ses huise in Gotwanistraat met klippe gegooi is.

“Ek het my CCTVstelsel naagegaan waar mens duidelik die Fortuner vol jong mense kan sien. Hulle is maklik vier keer in een aand in die straat op en af.”

Beide Charlene en Belinda het sake van opsetlike saakbeskadiging gaan open by die polisie.
Quintin het ook al die ander slagoffers aangeraai om sake oop te maak.

“Ons hoop dat die skuldiges gearresteer word! Dit is gevaarlik. Wat van die kinders?” het hy omgekrap gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button