Jong vrou vertel op video hoe sy met gordel in hospitaal aangerand is
’n Skokkende video waarin ’n jong vrou beweer sy is by die Middelburg Hospitaal aangerand, word wyd op sosiale media gedeel.
Dit is só erg, dat rdl. Deon van der Merwe dit dadelik vanoggend, nadat hy dit ook gesien het, vir die provinsiale wetgewer aangestuur het.
“Daar kan egter niks gedoen word, voordat ons nie weet wie sy is nie!”
Oral op Facebook is daar in die kommentaar gesê dat die vrou “dit nie daar moet los nie” en stappe teen die hospitaal moet neem.
Die jong vrou, wie se identiteit tans nog onbekend is, het op die video die merke gewys waar sy klaarblyklik met ’n gordel geslaan is oor haar bene.
Sy het ook merke op haar gesig, hande en rug.

Na aanleiding van wat sy vertel, blyk dit dat sy self ook ’n pasiënt was by die Middelburg Hospitaal. In die agtergrond lyk dit verder of die video op die Middelburg Hospitaalgronde gemaak is.
Sy vertel op die video dat sy vir ’n emmer gevra het, omdat ’n ander pasiënt naar was.
“Hulle het my aangekyk asof ek iets rook.”
Sy het besluit om self ’n emmer en mop te gaan haal, aangesien die ander vrou wel begin opgooi het in die kamer.
Nadat daar woorde was tussen haar en die personeel omdat sy dit gedoen het, het sy die sak wat sy by haar gehad het, gevat en uit die kamer geloop, beweer sy.
Sy sê ook dat sy vir die sekuriteit sou gesê het, dat “if you hit me, I will hit back. I just want to sit.”
Die vrou vertel daarna dat sy aan haar hand en voete opgetel is en na ’n bed gedra is, waar haar hande vasgemaak is.
Sy beweer dat daar ten minste 10 mense om haar was wat haar aangerand het.
Daar word gedetailleerd vertel hoe sy aan haar nek beetgekry is en ook met ’n gordel geslaan is.

Die persoon wat die video neem, het nader gegaan en die beserings in haar gesig, arms, hande, bobeen en rug afgeneem.
Die jong vrou het ook aangedui dat daar bloed in haar ore is na die aanranding.
Sy het verder gemeld “sy ’n paniekaanval gekry het, geweldig geskree het en ook opgehou asemhaal het”.
Ook beweer sy dat ’n verpleegster haar probeer help het en hulle gevra het om op te hou om haar aan te rand. Volgens haar het hulle die verpleegster ook in ’n hoek vasgedruk.
Na die beweerde aanranding het sy genoem dat dieselfde verpleegster die vensters oopgemaak en aanmekaar vir haar gesê het: “breathe.”
• Na die beweerde gebeure, het daar, volgens haar, ’n matrone verskoning gemaak. Die persoon wat die video gemaak het, het gevra of enigeen van die sekuriteitswagte verskoning gemaak het, maar sy het ontkennend geantwoord.
• Enige persoon wat weet wie die jong meisie is of meer inligting het oor die voorval, kan Daleen Naudé bel by 013 243 1323 of 072 248 3855 (WhatsApp kan ook gestuur word).
• Mnr. Christopher Nobela (mediawoordvoerder, Provinsiale Gesondheidsdepartement) het gesê dat hy reeds die video onder oë gehad het en met die hoof uitvoerende beampte van die hospitaal daaroor gaan praat. Hy het onderneem om terug te kom met ’n antwoord oor die aangeleentheid.
Kyk die video hier:
https://www.facebook.com/100028830562082/posts/1052269615744047/?mibextid=ou2O6MZ8of4BGb7x