News

Van dam na dam, maar nou moet egpaar weer trek

Die lewe het hulle ’n hele paar klappe toegedien en nou moet Wayne Botha en Né-Mandie Geldenhuys ook hul tent oppak by die Middelburgdam.

Hulle het met ’n geleentheid by die Middelburg Observer se kantore opgedaag, “want ons weet nie meer wat om te doen nie!”

Mnr. Botha vertel dat hy 21 jaar in Middelburg gebly het, waarna hy en sy lewensmaat die bestuur van haar pa, Julius Odendaal, se skrootmetaalbesigheid oorgeneem het in Gauteng.

Haar pa was op die punt om die besigheid op haar naam te sit, omdat hy nog ’n onderneming in KwaZulu-Natal gehad het, toe hy skielik oorlede is.
Daarna het alles ondertoe gespiraal vir die paartjie.

Vandaliste en inbrekers het die besigheid, wat tussen Witpoortjie en Roodepoort geleë is, só afgebreek dat net die murasies oorgebly het.

“Daar was twee jaar laas krag, want die diewe het al die kabels uitgegrou.” Boonop kan hulle nie die grond saam met familie verkoop om net ’n klein inkomste te kry nie, aangesien alles in die boedel is.

Mnr. Botha sê hulle het besluit om terug te kom Middelburg toe, aangesien hy bekend was in die dorp as bakbouer.
“Baie mense ken my nog as Gatiepie.”

Hy kon egter nie in sy lyn werk kry nie en het by ’n ander besigheid begin werk.

Né-Mandie Geldenhuys en Wayne Botha tydens hul besoek aan die Observer se kantore.

Die noodlot het egter weer toegeslaan.

Sy kar het gebreek en hy moes elke oggend 18.8km werk toe stap.

“Ek was elke oggend laat, want al het ek 04:00 geloop, het niemand my opgelaai nie. In die aande het ek ook eers hier by agtuur by die dam gekom. Ek moes dit ongelukkig los, omdat ek net nie meer die 37.6km elke dag heen en weer kon loop nie en dit te onveilig was vir Né-Mandie tot so laat alleen in die aand.”

Omdat hulle nie blyplek gehad het nie, het hulle eers by Krugerdam die tentjie opgeslaan.

Die munisipale wetstoepassers het vir hulle gesê dit is onwettig om daar te bly en dat hulle Middelburgdam toe moet skuif.
Hulle was net ’n paar dae daar, toe die opsigter vir hulle sê dat hulle nie langer as sewe daar daar mag bly nie.

“Daar is vir ons gesê dat die munisipale wetstoepassers ons gaan verwyder, maar dit was hulle wat in die eerste plek gesê het ons moet Middelburgdam toe.”

Me. Judy van Deventer (Lewe in Liefde) het aangebied dat hulle op ’n plaas by hulle in die tent kan kom bly.

•Die huis is vol, maar daar sal beslis plek wees vir hul tentjie,” sê me. Van Deventer.

Die egpaar sê hulle wil graag gaan, maar wil hul voertuig saamvat sodat hulle dit later kan laat regmaak.
“Ons moet egter die kar soontoe laat sleep, maar ons het geen inkomste tans om iemand te betaal nie.”

• Die munisipale regulasies is duidelik daaroor dat mense nie die dam ’n permanente blyplek kan maak nie.

’n Persoon mag nie langer as twee weke by die dam bly nie, tensy daar reëlings met die munisipaliteit getref is, of as dit skoolvakansie is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button