Nie eers hartaanval kon oudspeler stuit
Steve Meyer het twee weke gelede ’n hartaanval gehad, maar Steve was Vrydagand by die Suidoos-Transvaal oudrugbyspelers se reünie op Nelspruit.

Dit is tekenend van die 1983 span wat die Westelike Provinsie met 24-19 in ’n Lionbeker wedstryd op Witbank geklop het.
Meyer was een van die driedrukkers daardie dag, nadat hy ’n bal van losskakel Gert la Grange ontvang en die WP flank, Rob Louw, laat stilstaan het.
Die kaptein van die 1983 span, Richard Cooke, het gesê hulle het vooraf besluit dat niks in hulle pad sou staan om die WP te klop nie, geen komitee of administrateur nie. Die span het ooreengekom dat hulle vir mekaar sou speel en het om samehorigheid te kweek ook by 4SAI en op die Kees Taljaard-stadion geoefen.

Nog ’n driedrukker was die vleuel Frank Sullivan wat onthul het dat die heelagter, Harry Muller, wou uittree, maar hulle het hom oortuig om nog ’n seisoen te speel. Muller was een van die helde en het net voor die eindfluitjie geblaas het, met ’n reuse strafdoel geslaag.
Die Mpumalanga Rugby-unie president, AG Visser, het by die onthaal, wat vir die oud Suidoos spelers in die presidentslosie gehou is, gesê die oudspelers het die fondasie van die unie gelê en dat hulle “die geskiedenis wil eer”.
“Julle het ’n groot rol gespeel in ons sukses en die opofferinge gemaak. Wat ons bereik het, is as gevolg van julle.”

Mnr. Visser het ook gesê “ons is hier op geleende tyd, onthou hulle wat nie hier is nie.”
Hy het ook die vergelyking tussen verlede jaar se Curriebeker verowering en die Suidoos 1983 oorwinning aangeraak en gesê die Pumas het geen probleem dat die twee prestasies met mekaar vergelyk word nie.
Die Puma afrigter, Jimmy Stonehouse, het vertel hoedat hulle vir R10 gespeel het en 240 kilometer moes aflê om ’n oefening by te woon.
Aan sy spelers het hy gesê “om die beste te wees is ’n keuse, julle is die beste!”

Van die 1983 span het Steve Meyer, Gert la Grange, Frank Sullivan, Hendry van Tonder, Terence Moll, Richard Cooke en Jan Loubser, die geleentheid bygewoon.
Senter Sybrand Botes, wat vanaf 1970 vir Suidoos uitgedraf het en losskakel Chris Grove, wat in 1973 in die Suidoos span was, was die twee oudste spelers by die reünie.



