Man in hof na klein Amé (Vyf) in ongeluk sterf
’n Man het vanoggend in die streekhof op Middelburg verskyn na aanleiding van die ongeluk waarin die vyfjarige Amé Jansen van Rensburg gesterf het.
David Hebron Maponya het verskyn op klagtes van onder meer strafbare manslag, roekeloos en nalatige en bestuur onder die invloed.
Amé het op 26 September 2021 in die ongeluk op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad) gesterf.
Haar ma, Nadia Jansen van Rensburg, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Oktober 2021 genader, ’n maand ná die motorongeluk wat die lewe van haar dogter geëis het. Me. Jansen van Rensburg het haar arm gebreek in die noodlottige ongeluk.

Me. Jansen van Rensburg, haar man Phillip, hul seuntjie Flippie en Amé was op pad na Middelburg.
Albei die kinders was in hul motorstoeltjies vasgemaak.
Daar is later gesê dat ’n rooi voertuig oor die sperstreep gery het tot in die baan van die aankomende verkeer. Om ’n kop-aan-kop-botsing te vermy, het mnr. Jansen van Rensburg uitgeswaai, maar hul bakkie het omgeslaan en gerol. Amé het ’n noodlottige kopwond opgedoen.
Die bestuurder van die rooi voertuig het van die ongelukstoneel af gevlug, maar is deur ’n ooggetuie agternagesit, aangekeer en teruggebring na die toneel, waar hy aan die polisie oorhandig is. Daar is bewerings gemaak dat die persoon “sigbaar dronk was”.
Die saak is vertraag, omdat die uitslae van sy bloedalkoholvlak nog uitstaande was, ondanks die feit dat ooggetuies beweer het dat die man in ’n sigbaar besope toestand gesien is.
In Augustus 2022 het adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, die volgende in ’n brief aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geskryf: “Mnr Maponya was na bewering dronk en daar kan geen regverdiging wees om nie met die vervolging van dronkbestuur voort te gaan deur op die getuienis van die getuies op die toneel staat te maak nie.

“Dit is onsinnig dat die aangeleentheid nie op die rol geplaas sal word nie weens uitstaande bloedresultate wat jare kan neem om verkry te word indien omstandigheidsgetuienis beskikbaar is om deur die NVG aangebied te word. Deur bloot met die getuies te konsulteer, kan dit vasgestel en bevestig word.”
Die eenheid het voortgegaan om druk op die NVG toe te pas totdat die saak uiteindelik op die rol geplaas is.
Me. Jansen van Rensburg het gehuil in die hof toe sy Mapoyna sien.
“Vir ’n jaar en sewe maande was die naam Joseph Maponya ’n naam wat net hartseer en verdriet vir ons beteken het. Maar vandag kon ek ’n gesig by daardie naam sit. Dit maak my hart bitter seer, dat dit so lank moes neem, om by hierdie punt uit te kom. Nou is al die pleisters op ons harte afgeruk en die rou seer word weer blootgelê.”
Sy het AfriForum se privaatvervolgingseenheid bedank vir hul ondersteuning.

“Dit is nie regverdig dat ons hierdeur moet gaan nie, maar as dit beteken dat geregtigheid kan geskied en gesinne teen soortgelyke hartseer beskerm word, doen ons dit. Met die krag wat ons van ons Hemelse Vader kry, sal ons hierdeur kom.”
•Die saak is tot 19 Mei uitgestel, ’n dag voordat klein Amé sewe sou geword het.
“In plaas daarvan dat ek op 19 Mei in die kombuis staan en ’n koek bak vir my dogter se sewende verjaardag, wat op die twintigste sou gewees het, sal ek in die hof sit,” sê me. Jansen van Rensburg.
•Mnr. Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, het gesê dit moes nooit so lank geneem het om die saak op die rol te plaas nie.
“Die regsbeginsel, geregtigheid vertraag is geregtigheid ontken, is van toepassing op hierdie saak. Daar was genoeg getuienis beskikbaar vir aanklaers om te verseker dat die saak onverwyld vervolg word. Ons is egter dankbaar dat die saak uiteindelik aan die gang kan kom en dat die Jansen van Rensburg-gesin stappe na geregtigheid kan neem.”
