News

Motoris: “Abnormale trokke is boelies”

’n Man wat daagliks die ou Middelburg/Belfastpad (R104) ry sê abnormale trokke is ‘boelies’ en dat hy al ’n band verloor het soos hy uitgeswaai het.

Die maatskappy wie beskuldig word, kap egter terug en sê hy is uitdagend en weier om te geepad vir die abnormale vragmotors, wat te breed is om in net een baan te pas.
Mnr. Stuart Louw sê dat hy elke oggend net voor of net na 07:00 die trokke teëkom.

“Met die wintermaande wat nader kom en oos reis, ry ek direk in die opkomende son in wat verminderde sigbaarheid tot gevolg het. Mis word ook meer algemeen en dra by tot verminderde sigbaarheid.”

Hy sê abnormale vragmotors en lei-begeleidingsvoertuie “is boelies en kom dikwels teen ’n hoë spoed aan, soms in die verkeerde baan en druk die aankomende verkeer van die asfalt af op die meestal nie-bestaande gruisskouer. Hulle neem nie die veiligheid en welstand van die ander padgebruikers in ag nie.”

Mnr. Louw meld dat dit algemene kennis is dat die pad in ’n slegte toestand is, met talle slaggate en erge randbreuke.

“Die hoogteverskil tussen die asfalt (teerpad) en gruis langs die pad is dikwels groot en dit vergroot die gevaar om die asfalt teen spoed te verlaat.

Op hierdie videmateriaal sê mnr. Louw dat ’n mens kan sien dat daar nie ’n groot genoeg begeleidingspasie is tussen die begeleidingsvoertuig en die trok nie.

Hy het uitgewys dat die wettige spoedbeperking 100km/p/h is. “Die moontlikhede is egter groot dat ’n mens beheer oor jou voertuig kan verloor as jou twee linkerbande op gruis is, terwyl die ander op die teerpad ry, al ry jy selfs net die helfte van die wettige spoed.”

Mnr. Louw voeg by dat hy al ’n dosyn kere van die pad gedwing is, terwyl hy op spoed is, “omdat trokke nie voldoende waarskuwing aan aankomende verkeer oor hul abnormale vragte gee nie.”

Hy het aangehaal uit “Concargo Abnormal Loads Guidelines” se riglyne sê dat “die risiko’s vir ander padgebruikers verminder moet word tot ’n vlak gelykstaande aan wat dit sou wees sonder die teenwoordigheid van die abnormale voertuig op die pad.”

Mnr. Louw is van mening dat hierdie riglyne nie gevolg word nie.

“Dit laat my wonder of hulle werklik al die wettige permitte in plek het vir elke abnormale vrag wat hulle daagliks op die pad het. Ek het paneelbordkamera beeldmateriaal waar ek ’n abnormale vragvoertuig gevolg het terwyl dit teen 80 km/h gery het. Ek glo nie hierdie voertuie word toegelaat om teen hierdie spoed te ry nie.”

Volgens mnr. Louw het hy in Desember ook ’n band verloor toe hy van die pad gedwing is deur ’n vragmotor, wat teen ’n hoë spoed, sonder die voldoende volgafstand tussen die begeleidingsvoertuig en die vragmotor, gery het.

“Ander kere is daar geen begeleidingsvoertuig voor nie en ry hulle agter die abnormale voertuig, terwyl hulle voor moet wees om die aankomende verkeer te waarsku!”

Hy het ook van ’n onlangse voorval vertel waar die begeleidingsvoertuig in sy baan ingekom het en hy skielik moes rem, aangesien daar 300mm tussen die padoppervlak en die gruisskouer was.

Die begeleidingsvoertuig moes ook rem, aangesien hy nie dadelik die pad verlaat het nie.

Hy sê dat die abnormale trokke met opset meer oorbeweeg in sy baan in.

“Ek het stadiger gery tot ’n spoed wat ek gevoel het veilig was om die teer te verlaat om nie my bande of voertuig te beskadig nie. Dit het gelyk of die abnormale voertuig nie gerem het nie en het gelyk of dit op my afgery het.”

Hy het uitgelig dat as abnormale voertuie teen die aanbevole snelhede van 30 of 40 km//p/h ry, en daar voldoende afstand tussen hul begeleidingsvoertuig en die abnormale voertuig is, dit veilig agter die begeleidingsvoertuig behoort te kan stop.

Hy sê die abnormale vragte in die oggende en middae se gedrag verskil nie van mekaar nie,

“Ek wonder hoeveel ander padgebruikers het verlies of skade ondervind omdat hulle van die pad gedwing is.”

• Die klagte en videos wat mnr. Louw gestuur het, is aangestuur vir mnr. Christo Venter (eienaar van ’n groep besighede, wat Silver Solutions insluit).

Mnr. Venter het al die videos wat mnr. Louw gestuur het onder oë gehad en sê sy drywers het niks verkeerd gedoen nie.
“Dit is ’n B-roete, wat beteken dat die drywers hierdie pad moet gebruik.”

Verder meld hy dat hul abnormale vragte ten minste 4.6m wyd is en dat die padoppervlak daar sowat drie meter wyd is. Dit beteken dat die vragmotor se breedte wel oor die sperstreep gaan en dus ’n begeleidingsvoertuig het wat aankomende verkeer waarsku dat die vrag op pad is.

Die abnormale vragte mag ook nie die pad verlaat nie, as gevolg van hul gewig.

Op een van die videos het hy uitgewys dat die begeleidingsvoertuig duidelik ligte flikker om te wys dat die vrag op pad is en dat hy die teeroppervlakte moet verlaat. “Ons trok kon nie nóg meer links gaan nie.”

Op die bewering dat die voertuig te vinnig gery het, het hy gemeld dat hul abnormale vragmotors se stelsels so is dat dit nié vinniger as 80 km/p/h kan ry nie.

“As hy nie ’n vrag op het nie, mag hy 80 km/p/h ry. Die vragmotor se stelsel rem self op daardie spoed, so hy kan nie vinniger nie.” Hy het dit duidelik gestel dat al hul permitte korrek is.

• Slegs een van die 14 videos wat mnr. Louw ter illustrasie van sy klagtes gestuur het, word gebruik saam met die berig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button