R100 000 nodig “want dit gaan oor lewe of dood”
Bloed en ’n 9mm doppie is Vrydagaand omstreeks 22:30 by ’n bakkie in Totiusstraat (Gholfsig) gekry, maar die bestuurder van die bakkie was skoonveld.
Lede van Mid Alarms is tydens beurtkrag ontbied deur een van hul lede, toe ’n skoot geklap het. ’n Verdagte voertuig het oorkant die pad gestaan.
Mid Alarms reaksielid, Bennie Landman, sê hy het die bakkie, met sy agterkant teen ’n boom vasgedruk, op die sypaadjie gekry.
“Dit het gelyk asof iemand die voertuig van voor af met ’n ander voertuig teen die boom vasgedruk het.”
Met nadere ondersoek het hy gesien dat daar ’n iemand van buite af deur die venster geskiet is, want die passasiersvenster, met die gaatjie waardeur geskiet is, het langs die bakkie gelê. ’n Aanduiding dat die skieters die venster uitgehaal het om by die slagoffer uit te kom.
Hy het sy kollega, Deon de Lange, gekontak en hy het hom ook na die toneel gehaas.
Buite die voertuig het hulle ’n 9mm patroondoppie en nog bloedspatsels gesien.
“Die bloed in die bakkie was baie meer as dié buite die voertuig,” vertel Bennie. Dit was duidelik dat iemand in die voertuig geskiet is.
Later het ’n ander man op die toneel gestop en het die reaksielede gehoor hoe hy sê dat dit sy boetie se voertuig is.
Hy het gesê dat sy broer vroeër die dag gevra het vir R100 000 “want dit gaan “oor lewe en dood”.
Die broer het ook op die toneel gesê dat hul neef saam in die voertuig moes gewees het.
“Dit het egter nie gelyk na ’n kaping of roof nie, want sy selfoon en horlosie was nog in die voertuig.”
• Daar is betroubaar verneem dat ’n onderhandelaar van die polisie met die aanvallers gepraat het en dat die slagoffer later deur die nag deur sy aanvallers afgelaai is. Daar was nie ’n tweede persoon in die voertuig nie.
Die slagoffer is klaarblyklik in die been geskiet en word in die hospitaal behandel.
• Die lede van Noodroep Radiogroep Sektor 3 het ook bystand op die toneel verleen.
