FOTO’S: Nashua Loskop Marathon kry momentum met Middelburg Marathon Klublede se voorresies op Vryheidsdag
By een van die waterpunte met ’n Meksikaanse-tema, was selfs tequila vir die brawe hardlopers beskikbaar.

Verskeie inwoners moes gister, tydens Vrydheidsdag, verward deur hulle dagboeke blaai om vas te stel of hulle dalk hul datums effens verkeerd het.
Motoriste op die N11 is kort na 06:00 reeds begroet deur ’n string marathon hardlopers wat die vakansiedag benut het om hul kwalifiserende wedloop vir die komende Comrades Marathon te hardloop.
Die wedloop vind gebruiklik net voor, of kort na die Nashua Loskop Marathon, wat vanjaar weer danksy Nashua as hoofborg hervat word, plaas.
Langasems wat tydens die Nashua Loskop Marathon op 6 Mei as beamptes werk, het aan gister se wedloop deelgeneem.
Al die hardlopers op die pad was lede van die Middelburg Marathonklub wat jaarliks die wedloop reël.
Ander beamptes, soos mediese personeel en fisioterapeute, wat ook gedurende die dag werk, het ook spesiale vergunning gekry om aan die voorwedloop deel te neem. Dit word egter net op streng goedkeuring toegelaat.
Drawwers hou self tyd omdat daar nie ’n amptelike tydhouer tydens die voorwedloop is nie.
Sewentien hardlopers het vir die wedloop aangetree maar net 12 het eindelaaste die volle 50km tot by Loskopdam voltooi.
Familie, vriende en besighede met marathonklub bande het oudergewoonte elke drie kilometer ’n waterpunt beman, met verskeie wat twee of drie op die roete hanteer het.
By een van die waterpunte met ’n Meksikaanse-tema, was selfs tequila vir die brawe hardlopers beskikbaar.

