Kind in huis waar panga rondgeswaai word
Die lede kon gou agterkom dat daar huismoles is en daar is melding gemaak dat daar dreigemente met ’n panga gemaak is.
Lede van die Sektor 4 Nood Radiogroep het gisteraand ’n panga aan die polisie oorhandig nadat hulle uitgeroep is na ’n huis in Dennesig.
Alhoewel die lede nie gewoonlik reageer op huismoles nie, het hulle uitgegaan, omdat daar op die noodgroep op gesê is dat daar ‘moeilikheid by ’n huis is’.
Daar is aangeneem dat dit ’n huisroof kon wees.
’n Verkeerde adres is aanvanklik vir die lede gegee en hulle is van daar af na ’n ander huis, net laer af in die straat.
Hulle kon die huis vinnig kry, aangesien ’n vrou voor in die straat met ’n selfoonliggie vir hulle gewys het om te stop.
Die lede kon gou agterkom dat daar huismoles is en daar is melding gemaak dat daar dreigemente met ’n panga gemaak is.
Die polisie is gekontak, maar ’n histeriese vrou het gesê dat sy nie weet “of die kind in die huis lewendig is nie,” en hulle is met toestemming van die vrou by die huis in om die kind te soek.
Hulle het die tiener veilig gekry en ’n panga, wat in die huis was, is aan die lede oorhandig, wat dit kort daarna vir die polisie gegee het.
Terwyl daar vir die polisie gewag is, het die tiener weg geloop van die toneel af en die radiogroeplede het die tiener weer opgespoor en in die sorg van die ouma gelaat.
• Op die toneel is genoem dat dieselfde panga gebruik is om by ’n vorige geleentheid ’n voertuig erg te beskadig.
