News

Trokke jaag teen 150 kilometer per uur op N4

Trokke jaag teen duiseligwekkende spoed op hoofweg.

Twee trokke het teen ’n spoed van ongeveer 150 kilometer per uur op karre afgejaag en een voertuig moes selfs in die noodbaan inbeweeg om nie onder die trokwiele te beland nie.

Mnr. Hugo Langenhoven is dankbaar dat nie hy of die ander persoon wat in die noodbaan moes inbeweeg, onder die twee trokke se wiele beland het nie.

Hy het aan die hand van ’n video van die angswekkende oomblikke vertel van die twee trokke wat heen en weer oor bane beweeg het teen ’n geweldige spoed.

“Die een was voor my en die ander een het van agter af tot byna teen my gejaag en ligte van agter af geflits. Ek was vasgedruk tussen die twee en kon nêrens heen nie, want daar was ander trokke en verkeer aan die linkerkant!”

Mnr. Langenhoven was verlede Sondag (22 April) vanaf Rustenburg (waar hy werk gaan doen het) na Middelburg onderweg, toe die gebeure om 18:35 begin afspeel net na die Middelburg Tolhek (Middelburg se rigting).

Hy was in die regterbaan en daar was ’n trok aan sy linkerkant.

Die volgende oomblik het ’n trok op ’n hoë spoed met flitsende ligte van agter af op hom afgejaag.

Hy moes al hoe vinniger ry om te probeer wegkom, maar ’n ander trok het voor hom ingeswenk en is hy ingeboks.

Hulle het so vinnig gery en heen en weer van links na regs oorbeweeg, dat hy nie by hulle verby kon kom nie.

’n Mens kan sien dat hy 142km/p/h ry en dat die trokke, wat heen en weer geswenk het, heeltemal onder hom uitry.

Hyself moes 142 km/p/h op ’n stadium ry, omdat ’n ander trok van agter op hom afgejaag het met flitsende ligte en hy nie kon oorbeweeg het in die linkerbaan in nie, omdat daar ander trokke en verkeer was.

“Ek het my arm teen die paneelbord vasgedruk en die selfoon in hul rigting gedruk en net afgeneem, want my oë was op die pad voor my om seker te maak as hulle weer na links swenk, dat ek nie in ’n ander voertuig van agter af vasry nie.”

Hy het geen idee gehad wat sy selfoon alles afneem en of dit eers in fokus is nie, aangesien sy oog op die pad was. Hy het gehoop hy kry die trokmaatskappye se name op die video wat hy neem.

“Eers later by die huis het ek gesien wat ek afgeneem het en dat ’n mens nie hul naam kon sien nie.”

Mnr. Langenhoven sê wat hom bekommer is dat hierdie trokke baie mense se lewens in gevaar gestel het.

“’n Mens staan nie ’n kans as so ’n trok op jou afjaag nie, hy stoot jou waar hy wil! Géén trok mag teen 150 km/p/h ry nie!”

Hy glo vervoermaatskappye het opsporingstelsels in alle trokke en hy weet dit dui ook aan watter spoed gery word.

Mnr. Langenhoven hoop hulle sien die video raak en spreek die trokbestuurders aan om seker te maak dat nie nog mense deur hierdie trauma gaan nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button