Oud-Rooies rugbyspeler sterf etlike dae na operasie
’n Bekende oud-leerling en rugbyspeler van HTS Middelburg, Bertus Fouché (48), is Vrydag in die Kloof Hospitaal oorlede.
Hy is verlede Woensdag geopereer en is Donderdag weer terug hospitaal toe, waar hy Vrydag weens ’n bloedklont in die long gesterf het.
Bertus het in 1992 matrikuleer aan HTS Middelburg en daar is op die HTS Oud Skoliere Facebookblad hulde gebring aan hom:
“Hoe sê mens totsiens vir een van die Rooies se legendes? Iemand wie jy al jou hele lewe lank ken. Hierdie was ’n skok, ’n baie groot skok.
Nes Bertus op al die rugbyfoto’s naby sy beste vriend, Richard Mackechnie staan, glo ek staan hulle vanaand saam in die hemel.
Bertus was ’n groot naam wat die rooi trui gedra het. Ons dink aan sy familie, sy ma, tannie Alta, en sy kinders en sy vriendin.
Rus in vrede Bertus. Ons Rooies salueer jou.. Staan op manne hier kom ’n legende verby…”
• Die begrafnis is Vrydag uit die NG Kerk Morelettapark in Pretoria.
