News

Sarsies skote hou mense wakker

Sarsies skote wat Saterdagnag kort na middernag gehoor is, het inwoners van Kanonkop en Dennesig vir die soveelste keer wakker gehou.

Een vrou het verlede jaar so erg geskrik toe ’n skoot afgevuur is in Kanonkop naby haar huis, dat sy haar nek beseer en later ’n operasie moes ondergaan!

Skote word gereeld in Kanonkop en Dennesig in die nagte gehoor en inwoners vrees vir hul veiligheid.

Me. Angelique Oosthuizen bly in Zebrastraat en was die eerste wat om 00:13 Saterdagnag op die Dagpatrollie WhatsApp-groep gesê het sy hoor skote in Kanonkop.
Kort daarna het verskeie mense beaam dat dit soos ’n ‘klein oorloggie’ geklink het.

“Daar het ten minste 13 tot 17 skote geklap. Ek het wakker geword daarvan. Dit was sarsies, met ’n kort breek tussenin.”
Sy sê dat dit nie naby was nie, maar dat hulle duidelik kon hoor dit is wapens en nié ’n voertuig nie.

“Dit is scary. Elke nou en dan hoor ons skote en niemand gee ’n verduideliking of sê ’n woord daarna wie dit was nie. Is ons nou veilig? My kind se bed is voor die venster! Dit is al ten minste die vierde keer dat ons skote in die nag gehoor het, maar die persoon word nooit opgespoor nie.”

•Me. Charmaine Evans is ’n inwoner van Springbokstraat en het dieselfde tyd die sarsies gehoor.
“My seun slaap gewoonlik vas, maar hy is wakker gemaak deur die skote!”

Sy meld dat ’n persoon sowat ’n jaar gelede in die nag eenkeer ’n skoot in hul straat afgetrek het.

Me. Evans sê omdat dit so naby hul huis was, het sy geweldig geruk van die skrik en haar nek beseer.

“Ek het aanvanklik fisioterapie ondergaan, maar daar is later gevind dat ek ’n werwel beseer het en moes laat verlede jaar ’n nekoperasie ondergaan!”

•Me. René Botma het ook in Essenhoutstraat skote gehoor.

“Ek was wakker toe dit begin en ek het 12 enkelskote gehoor. Dit was ’n rukkie stil, waarna ek sarsies skote gehoor het. Dit het geklink soos ’n outomatiese geweer.”

Sy sê dat die skote vir haar ver geklink het, asof dit vanaf Sentraal se rigting, naby Eastdene, kon gewees het.

“Ons is mos op die koppie en kan skote ver hoor. Ek dink egter nie dit het van Kanonkop of Dennesig se kant af gekom nie.

•Me. Saloyso Mostert (Olienhoutstraat) noem dat dit al ten minste die vierde keer is dat sy Saterdagnag skote gehoor het.

“Dit het soos ’n oorlog geklink! Dit was egter nie baie naby nie.”

•’n Inwoner van Steve Bikostraat (Dennesig), wat anoniem wil bly, sê die skote was baie naby aan hulle huis.

“Dit het geklink asof dit by die dammetjies of selfs in die parkie naby Saverite kon wees!”

Die klank van die skote was só erg dat haar honde in die huis tekere gegaan het.
Sy het genoem dat hulle Donderdagaand soortgelyke skote gehoor het.

•’n Ander inwoner van Dennesig (wat ook anoniem wil bly) vertel dat hulle onlangs ook harde slae in die nag gehoor het soos skote wat klap.
Hulle het gaan ondersoek instel en gesien dat daar ’n brand is by die vullishoop.

“Die aerosolblikkies en glasbottels het gebars van die hitte en geklink soos geweerskote in die nag!”

•Daar is navraag gedoen by ’n inwoner van Eastdene oor die vermoede dat die skote van daar af kon kom, maar sy het gesê dat hulle niks gehoor het nie.

•Mnr. Arthur Hill (Dagpatrollie) het gemeld dat die klapgeluide wat op 22 April soos geweerskote geklink het, vuurwerke was wat in Mhluzi geskiet is.

Hy was op daardie stadium op patrollie en het vanaf Harry Gwala (Dennesig) se ingang die vuurwerke gesien.
Mnr. Hill weet egter nie wat die oorsprong van die skote Saterdagnag was nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button