Man sterf en fonds vir passasier begin na ongeluk
’n Man is dood en sy vriend ernstig beseer in ’n ongeluk tussen Evander en eMbalenhle Saterdagaand.
Gideon Bensch (37) is dood verklaar op die toneel en André Malan (28) het ernstige beserings opgedoen, nadat Gideon se BMW die pad verlaat en gerol het. Die ongeluk het omstreeks 21:00 gebeur.
Die ernstig beseerde André het op die toneel aanmekaar na hul vriend, Herman Lindeque, geroep, maar hy was nie in die voertuig tydens die ongeluk nie.
Herman het vertel dat André en Gideon Saterdagoggend vanaf Carolina na Middelburg gekom het, om saam met Herman, sy vrou en haar suster by Herman se ma, Hannatjie, te kuier. Herman is ook in Carolina woonagtig en hulle het agter hom aangery.

Herman, André en Gideon het deur die dag saam gekuier, maar op ’n stadium wou Herman se vrou dorp toe en die ander twee mans het gery.
Hy was onder die indruk dat hulle sou terugkom om verder te kuier, maar hy het nie weer van hulle gehoor nie. Hy onthou wel dat André baie sleg gevoel het.
Laat die aand het hy verneem dat sy twee vriende in ’n ernstige motorongeluk betrokke was.
Herman het dadelik André se ouers, André (snr) en Rina (wat ook in Middelburg woonagtig is) van die ongeluk in kennis gestel. Hy het hulle gaan oplaai en die nag na die Evander Hospitaal geneem, waar André in die ongevalle-afdeling behandel is.
André is dieselfde nag oorgeplaas na die Witbank Hospitaal waar verskeie skanderings veelvuldige breuke aan sy pelvis en linkerarm gewys het. Hy het ook sy neus en verskeie tande gebreek.
Sy mond is oopgeskeur, sy tong het ’n sny in en hy het ook ’n gat in sy kop.

Daar is ’n BackABuddy fonds gestig om te help met die mediese uitgawes, aangesien die dokter hulle meegedeel het dat hy moontlik ’n paar operasies sal moet ondergaan.
https://www.backabuddy.co.za/andre-lotter-malan-5587297874531326653
Daarna sal intensiewe rehabilitasie volg.
Die dokter het gesê dit sal tot ’n jaar neem voor André weer kan loop.
André kon met hulle praat, maar het gesê dat hy nie weet hoe die ongeluk gebeur het nie, aangesien hy gelê en slaap het en eers wakker geword het tydens die ongeluk.
Me. Malan vertel dat André verlede Woensdag vanaf Middelburg na Carolina verhuis het, omdat hy deur sy werkgewer verplaas is. Hy is ’n dieselwerktuigkundige.

Gideon en Herman bly ook in Carolina en die drie was groot vriende.
Herman onthou hoe lekker hulle nog Saterdag gekuier het.
“Ek het nie gedink dit sou die laaste keer wees wat ons saam met Gideon sou wees nie.”
Hy het Gideon beskryf as ’n “aangename mens.”
• Alhoewel Gideon in Carolina gebly het, het hy na Middelburg gependel waar hy by ’n myn gewerk het.
Sy familie het vanoggend gesê dat hulle nog glad nie weet hoe die ongeluk gebeur het nie en dat hulle na Evander sal reis om meer by die polisie uit te vind.
Die begrafnis gaan in Carolina gehou word.
• André se ouers wil graag die paramedici, asook die Evander- en Witbank Hospitale bedank vir hul puik diens en die besondere manier wat hulle André behandel het.
