Noodgroep waarsku oor tennisballe met gif in
Vergiftigde tennisballe wat na spelende honde gegooi word, sodat daar ingebreek kan word, is nog nie in Middelburg gedoen nie.

’n Boodskap wat rondgestuur word op verskeie WhatsApp-groepe het volgens mnr. Arthur Hill sy oorsprong in Australië.
Of plaaslike boewe egter in tennisballe gaan belê net om honde vir toegang tot erwe te verseker, is egter oop vir debat.
Volgens mnr. Hill word die balle, afhangende van die eintlike bal, of gif in, of op.
Tennisballe se wollerige natuur hou glo gifpoeier die beste.
Temic, of two-step soos wolwegif plaaslike bekend is, word meestal gebruik.
Honderde honde is wel al in die dorp wreedaardig met gif afgemaai.
Gewoonlik word die korrelrige gif in stukkies polonie of ander vleis na die honde geslinger.
Sakkies met gif is ook al in erwe gevind.
Mnr. Hill sê hy wil net inwoners waarsku oor die gier wat glo in Australië posgevat het.
’n Google-soektog het verskeie gevalle blootgelê.
Vyf oopgesnyde tennisballe is in 2015 in Skotland by ’n openbare swembad gevind.
Hulle was gevul met rotgif.
In 2018 het ’n Britse koerant ook berig van ’n hond wat met rotgif in ’n tennisbal vergiftig is.
’n Toowoomba vrou het in 2020 aan die Australiese Chronicle vertel hoe haar twee honde met tennisballe wat geweek is in remvloeistof vergiftig is.
