News

Shakespeare-tragedie spook voort in Waterval-Onder

Vir die liefde is daar geen spertyd nie. Die eienaars van Wayside Lodge in Waterval-Onder kan hiervan getuig.

Die lodge is immers die tuiste van die area se twee bekendste spoke, ’n gevalle Britse soldaat en sy nooi.

Min is egter oor die wenende paartjie bekend, en die lodge het nou die navorser Derek Meise genader, om bietjie meer agtergrond oor luitenant John Lawlor en sy boering verpleër Maria.

Dit is ’n liefdesverhaal wat die toets van die tyd deurstaan het, hoewel talle kinkels deur die jare bygekry is.

Volgens Meise is luitenant Lawlor in die 1900’s oorlede.

In ’n uittreksel van die boek “The ghost that closed down the town” word breedvoerig na die Romeo en Juliet verwys, want soos die Capulets en die Montagues in Shakespeare se tragedie, was die vurige band tussen Lawlor en sy Maria taboe, sien hy was ’n rooinek, en sy ’n Voortrekker nasaat.

Luitenant John Lawlor se graf.

’n Britse bom wat op die veldhospitaal laat val is, het Maria se lewe geëis.

“Lawlor was ontroosbaar. Die kombinasie van ’n gebroke hart en dodelike wond, was eidenlaaste te veel, en hy ook, het die wêreld vir die hiernamaals verlaat,” lui die boek.
Op sy grafsteen kan die woorde, “Die enigste seun van sy moeder, en sy was ’n weduwee,” nog uitgemaak word.

Talle besoekers het laterjare getuig van ontmoetings met die verliefdes se spoke onder ’n peperboom agter die lodge.

Vandag is daar net ’n stomp oor nadat die boom gebrand het, wat moontlik gewig gee aan ander vertellinge dat kamer 12 van die lodge ook spook.

Die liefdesverhaal het ook die blaaie van die Middelburg Observer gehaal, met ’n joernalis wat die stomp, en sy geskiedenis ondersoek het, kompleet met ’n foto.

Die koerant het destyds tong in die kies geskryf dat luitenant Lawlor en Maria “nie met die joernalis wou gesels nie, maar bloot hande vasgehou en verlangend in mekaar se oë gestaar het.”

Ander sê weer Lawlor kom nie tot tus nie, omdat hy oor die Kruger-skatte met ’n perdesweep waak, wat glo onder die waterval begrawe lê.

Meise sê hy is op soek na meer inligting rakende die Lawlor legende.

Inwoners wat iets weet kan gerhard@mobserver.co.za e-pos met meer inligting.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button