Anna Mokwena hardloop more haar eerste Loskopmarathon op die ouderdom van 75 jaaar!
“Ek het gedog sy maak ‘n grap toe sy drie maande terug vir my vertel het dat sy hierdie jaar die Loskopmarathon gaan hardloop!” het haar werkgewer, Kobus Terblanché, vanmiddag gesê.
Anna werk al vir 35 jaar by hom as huishulp en vertel sy trots dat sy al van 2010 af klein entjies om haar huis gedraf het.
Hierdie jaar het die gogga haar gebyt om die Loskopmarathon aan te pak.
“My kop het sommer vir my gesê ek moet dit doen,” sê sy laggend.
Die oomblik toe sy besluit het sy gaan die marathon hierdie jaar hardloop, het sy dadelik hard begin oefen.
Sy het eers net in Doornkop se stofstrate geoefen.
In die laaste sowat drie maande het sy egter al vier keer van Doornkop af tot in Middelburg gedraf en terug.
As jy haar vra of sy glo sy gaan die marathon klaarmaak, lyk sy half verbaas asof ‘n mens daaraan kan twyfel.
“Ek gaan ja!”
Sy weeg net 45kg en met haar fikse klein lyfie, glo sy dat sy die wedloop onder die afsnytyd van sewe ure sal kan klaarmaak.
Die inskrywingsgeld van R600 was vir haar geweldig baie geld en was sy ook bekommerd oor watter sportskoene- en klere sy gaan dra tydens die wedloop. Kobus het egter gehelp dat sy gereed kan wees vir die groot dag more.
- Kobus se tuinier, Samuel Mokoane (55) doen vanjaar sy vyfde Loskop. Hy het voorheen altyd vir die Eskom Atletiekklub gehardloop. Samuel is al 32 jaar werksaam by Kobus.
