Anna Mokwana, die 75-jarige huishulp wat vandag haar eerste Loskopmarathon gehardloop het, het tot by 47km gekom.
Sy het die afgelope paar maande in die stofstrate van Doornkop geoefen en was baie positief om die marathon te voltooi.
Op die brug, net voor Varaday’s Hill, het sy egter so erg krampe gekry dat sy nie verder kon hardloop nie.
Haar werkgewer, Kobus Terblanché, sê dit is vir hom steeds ‘n “wonderlike, uitmuntende prestasie van ‘n moedige vrou. En sy lag nog!”
Hy is van mening dat as sy die Wild Challenge, wat 21.1km is, gedoen het, sou sy maklik klaargemaak het. Sy het egter nie geweet van hierdie wedloop nie. Hy glo ook as sy jonger in haar lewe begin hardloop het, sou sy ‘n atleet van formaat gewees het.
- Anna is nou nog meer positief om die marathon volgende jaar aan te durf en gaan sommer een van die dae weer die langpad aandurf vir oefensessies.
- Kobus se tuinier, Samuel Mokoane (55) het die Loskopmarathon voltooi in net oor die vyf ure.

