News

Vrou veg vir lewe en dood teen aanvaller in haar bed

Tydens vorige inbraak het boewe kluis met blikoopmaker probeer oopmaak.

Terwyl ‘n aanvaller haar aanmekaar gewurg en sy vir lewe en dood teen hom geveg het, het Lynette Ludwig (59) se lewe voor haar oë verbygeflits.

“Ek het my kinders en kleinkinders voor my gesien en geglo ek gaan sterf…” het sy vertel, minute nadat sy uit die Midmed Hospitaal ontslaan is nadat sy behandeling vir ernstige wurgplekke om haar nek gekry het.

“Hy wou my doodmaak en het nadat hy my selfoon gevat het om te loop, gesê dat hy gaan terugkom vir my.”

Me. Ludwig het wakker geword die oomblik toe die krag om 05:00 afgaan en besluit om nie haar liggie aan te sit nie en verder te slaap.

“Die volgende oomblik was hy bo-op my! Hy het dadelik sy hande om my nek gesit en my begin wurg.”

Die klein vroutjie het egter nie opgegee nie.

Terwyl die wurggreep al hoe stywer om haar nek geword het, het sy met haar hande hom aan sy ore beetgekry.

Dit het egter nie gehelp nie en het sy ook haar vingers in sy oë probeer druk.

Hy het egter vir haar gesis: “let’s not fight,” maar sy het aangehou stoei om sy hande om haar nek weg te kry.

“Ek het probeer skree en gebid: ‘Here help my!”

Terwyl sy alles probeer het om los te kom, het sy ook gehoor hoe hy vir haar sê: “somebody told me about you!”

Sy het besef dat hy besig is om die lewe uit haar te wurg en het in ‘n desperate poging om te oorleef, hom begin krap en ook aan sy geslagsdele beetgekry.

“Ek het op ‘n stadium ook met my een hand in sy denim se sak gevoel of daar nie dalk iets skerp is wat ek hom mee kan steek om weg te kom nie, maar daar was niks.”

Nadat sy hom gekrap en aan die geslagsdele beetgekry het, was hy woedend en het haar op die grond neergegooi.

Sy het by hom gepleit vir haar lewe en gesê dat hy enigiets kan vat, maar asseblief net haar lewe moet spaar.

Hy het gevra vir haar selfoon en aggressief gedreig dat as sy iemand bel, hy haar sal doodmaak.

Daarna is hy uit by die kamer.

Sy het ‘n afstandbeheerder van die kompleks (wat die aanvaller moes saamgebring het), asook ‘n skêr, wat in haar kombuis was, na die aanval in haar bed gekry.

Nadat dit stil geword het, het sy gaan hulp soek by die opsigter en is sy na die Life Midmed Hospitaal geneem vir behandeling.

Haar kinders het van Bethal af Middelburg toe gejaag om haar by te staan en is daar met die joernalis se besoek gesê dat hulle haar nou daar gaan laat bly.

“Ons gaan nie toelaat dat sy hier vermoor word nie!”

Me. Ludwig het melding gemaak dat daar op 21 April ingebreek is by haar blyplek by Korona Meenthuise in John Magagulastraat (naby die Klein Olifantsrivier).

Sy was die tuis tydens die inbraak nie en is daar talle artikels gesteel.

Die boewe het haar kluis uit die muur uit gebreek en dit met ‘n blikoopmaker probeer oopmaak. Daar is bloed op die blikoopmaker gekry.

Daar is bloed op die blikoopmaker gekry tydens die vorige inbraak,

Hulle kon die kluis egter nie oopkry nie en het dit net daar gelos.

Daar is vermoed dat dit moontlik dwelmverslaafdes kon wees, want buiten ander los artikels wat uit die huis gesteel is, is ook al die kos uit die yskas gebuit.

Hulle het van binne af die deur probeer oopbreek, maar kon nie, en het hulle die gesteelde artikels deur die venster uitgevat.

Na die inbraak het sy besluit om die sekuriteit by haar huis nog meer op te skerp en het vir buiten die bestaande diefwering, nog ekstra hortjies tussenin laat sit.

“Hy het vanoggend deur die klein venstertjie by die badkamer ingekom waar my kat altyd deurklim!”

Daar is op 24 April deur die loop van die nag ingekom by me. Sonette Annandale se meenthuis terwyl sy geslaap het. Sy bly ook in dieselfde kompleks. Die boef het deur die diefwering geklouter.

“Ek het presies om 23:23 wakker geword die nag en nog gewonder wat my wakker gemaak het. Ek het gekyk na die tyd op my selfoon en weer verder geslaap.”

Die volgende oggend het sy gesoek na haar selfoon.

“Ek het my beddegoed uitgeskud, maar kon hom nie kry nie. Toe ek in die kombuis kom, het my handsak op die grond gelê. Ek het dadelik besef die dief het my selfoon langs my bed en my handsak in my kamer gevat! As ek opgestaan het, sou ek waarskynlik ook aangeval gewees het!” het me. Annandale ontsteld gesê.

  • Me. Annandale het genoem dat sy en me. Ludwig, asook hul ander vriendin, Tanya Roarty, beplan het om die naweek Hartbeespoortdam toe te gaan. Me. Ludwig wou egter tuis bly om die diefwering te verf wat opgesit is. Die ander twee vroue het gegaan en vanoggend teruggejaag van daar af om me. Ludwig te kom ondersteun.
  • Daar is gemeld dat daar by een van die ander meenthuise onlangs ingebreek en ‘n televisie gesteel is en ‘n braaier voor van ‘n stoep af ook gevat is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button