Kabeldief vasgetrek terwyl omhulsel afgebrand word
’n Kabeldief is vanoggend in die vroeë oggendure vasgetrek, terwyl hy besig was om die omhulsel om die kabels af te brand.
Mid Alarms reaksielid, Jared Bezuidenhout het in John Magagulastraat opgery, toe hy opmerk dat daar rook van onder die brug uitkom (net na Wandererstraatkruising).
Hy het sy kollega, Hendrik Janse van Rensburg, gekontak vir ondersteuning en die twee het teen die skuinste onder die brug ingegaan.
Hulle het ’n verdagte op heterdaad betrap wat nog besig was om die omhulsels van koperkabels af te brand.
Die oomblik toe die man die twee reaksielede sien, het hy hulle probeer aanval met ’n stok, maar hulle het hom gewaarsku dat hulle gewapen is en hy het die stok neergegooi.
• Die polisie het die verdagte weggeneem. Hy behoort vandag in die hof te verskyn.
