Dorp reg vir grootste derby ooit
Middelburg is besig om sy vere reg te skud vir een van die grootste derby’s wat nog ooit op die dorp aangebied is.

Oudleerlinge van HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg gaan in duisende op die dorp toesak vir die geleentheid volgende naweek.
Middies se matriekgroep van 1978 het gereël om in die koshuise van hul ou alma mater te slaap.
HTS Middelburg gaan die dorp tot stilstand bring met hul gewilde rooi optog, terwyl Hoërskool Middelburg ook beplan om die dorp groen te verf.
Die derby begin Maandag al met die gholf wat by die Middelburg Buiteklub gespeel word en die muurbal wat by HTS Middelburg se muurbalbane beslis word.
Die seunshokkiewedstryde word Woensdag gespeel met die A-spanne by HTSM se astrobaan en die B-spanne op Middies se astrobaan.
Die skiet-afdeling is Vrydag by HTS Middelburg se ouditorium en die tennis se A-spanne speel by HTS Middelburg en die B-spanne by Hoërskool Middelburg.
Die rugby, hokkiedogters en netbal is deel van Saterdag se program.
Die skole se oudleerlinge pak mekaar Donderdag op die gholfbaan by die Buiteklub.
• Al die inligting en programme vir die verskillende wedstryde is in die Middelburg Observer se bylaag oor die derby volgende week.
