Twee vroue is dood tydens ’n brand by die Adelhof-woonstelle in Cowen Ntulistraat.
Me. Yolandie Pieterse (56) en haar skoonma, Susan (ook Sannie genoem) is beide oorlede in die brand, wat vermoedelik deur ’n kers veroorsaak is.
Personeel en kinders van die Arrayah Sentrum vir kinders met spesiale behoeftes, was vanoggend geskok toe hulle hoor dat hul geliefde “juffrou Yolandie” en haar skoonma, Susan, oorlede is.
“Die kinders van die kleuterskool-afdeling, waar sy gewerk het, het haar sommer ouma Yolandie genoem,” het me. Leandri Kapp (Arayya Sentrum) vanoggend hartseer gesê.
Sy het vertel dat hulle me. Pieterse leer ken het toe sy en haar dogter, Anneke, altyd by hulle koeksisters verkoop het.
Tydens een van hulle geselsies het hulle gehoor dat me. Pieterse vir jare by kleuterskole gewerk het en hulle het haar twee maande gelede as assistent by die kleuterskool-afdeling aangestel.
“Sy was ’n fantastiese vrou en het reeds diep in almal se harte ingekruip,” het me. Kapp gemeld.
