News

Pa aan kinders: “By Loftus is (was) dit lekker”

Daar is ’n gesinnetjie van Middelburg wat elke liewe wedstryd op Loftus Versfeld bywoon, sonskyn of stormweer.

Hulle is fanatiese Blou Bul-ondersteuners. Wanneer hulle verby Loftus ry, vra die pa altyd: “Waar is dit lekker?” Dan antwoord die kinders: “Op Loftus is dit lekker!”

Daar is ook ’n sakeman van die dorp wat ’n losie het by Loftus Versfeld. ’n Paar jaar gelede het hy die losie opgesê, want sy maatskappy kon nie mense kry wat na Pretoria wou ry nie, al het hulle verniet geëet en drink.

Om van Middelburg na Pretoria te ry is ’n uitgawe wat die sak kan ruk, met tolhekgeld en alles wat daarmee saamgaan.
As dit lekker is op Loftus, is geen uitgawe te groot nie.

Maar nou is dit nie meer lekker nie.
Verloor is nooit lekker nie.

Veral as jy skande maak teen die Pumas en Griffons.

Blou Bul-ondersteuners moet die laaste tyd die hoon verduur van veral die Stormer-ondersteuners wat eensitplek bussies se foto’s aanstuur met die bewoording, “die Bulle het ’n bus vir hulle ondersteuners gekoop” of daai ou een van “die Bulle kan nog na die eindstryd toe gaan, hulle moet net kaartjies koop”.

Om 6-0 stroop in ’n tenniswedstryd te verloor is ’n vernedering, ’n White-wash! Dit is presies wat John Dobson met Jake White gedoen het

Na Tukkies uit die Varsitybeker is, die Curriebeker span aanhou verloor het en die span wat aan die Verenigde Rugby Kampioenskappe deelneem slae gekry het, is daar vanaf Loftus aangekondig dat daar foute gemaak is.

Een van die foute was White se siekte.

Is daar nie strukture in plek om die bal te laat aanhou rol wanneer die hoofafrigter nie daar is nie?

’n Mens het nie ’n siener nodig gehad om te voorspel het die aanstelling van Edgar Marutlulle ’n ramp was wat wag om te gebeur nie.
By een van sy eerste oefeninge was byna die hele VRK afrigtingspan daar “om hom by te staan”.

Die arme Marutlulle se selfvertroue moes onmiddellik daarmee heen gewees het, met al die ander afrigters wat oor sy skouer loer.

Die span het nie ’n identiteit gehad nie was die volgende verskoning.
Dit was waar.

Dit was ’n basterspan tussen Currie- en VRK spelers of sommige spelers wat een week goed genoeg was vir die Curriebeker span en die volgende week nie gespeel het nie.
Die spelers se liggaamshouding op die veld het gewys hulle is so ongelukkig soos ’n ma sonder moedersdag geskenk.

Toe die Curriebeker span identiteit kry en begin wen, is hulle teen die Stormers weer vervang met VRK spelers wat skandalig in die Kaap gaan verloor het teen ’n klomp jong onervare WP spelers.

’n Belowende jong speler soos Jan Hendrik Wessels wat moes plek vir “oom” Bismarck du Plessis sal sekerlik wat wou gee om in ’n provinsie te speel waar hy waardeer word.
Die beste geval is egter Wandisile Simelane.

Hy is by die Leeus gekoop as een van die beste senters in die land maar weet seker nie of hy na dese ’n senter, heelagter, vleuel of enigsins ’n rugbyspeler is nie.
Miskien dink Jake White hy kan hom flank toe skuif, soos hy met Andre Esterhuizen wou maak.

Die grootste fout by die Bulle kom nie van vandag af nie, dit kom oor jare.

Was daar nou wraggies niemand, behalwe die getroue toeskouers, wat gesien het Duhan van der Merwe is ’n speler van internasionale gehalte toe hy by Tuks was nie? Hy moes vandag in Blou Bulle se blou gespeel het en nie in Skotland nie.

Daar word gereeld op Loftus gespog met al die goeie jong spelers en al die trofeë wat die Bulle se jong spanne wen. Wat word van daardie spelers?

Waarom moet ’n Manie Libbok, Willie Engelbrecht, Faf de Klerk, Vincent Koch, Sebastiaan de Klerk, Wilco Louw en honderde soos hulle by ander provinsies hulle merk gaan maak? Nog ’n “arme”. Arme Ruan Nortje is vir die wolwe gegooi en lewendig verslind deur Eben Etzebeth en kie.

“Hy sal in die kapteinskap in groei” was die verskoning.

Miskien is daar te veel side shows by Loftus: Klubrugby, vrouerugby, junior rugby, terwyl dit vrotsig gaan daar waar dit saak maak. Alles goed vir die unie se beeld maar dit is waar dit eindig.

Daar word deesdae gespog met al die versterkings wat op pad is na Pretoria.
Met ander woorde daar word gehoop om sukses te koop.

Daar is niks so vernietigend soos diegene wat nie wil hoor of sien nie.

Miskien is dit die heel grootste probleem, kritiek gaan nie goed af in Pretoria nie, in plaas van dit ter harte te neem en iets daaraan te doen.
Soos toeskouers wat gekla het oor misdaad om Loftus.

Die antwoord was eenvoudig daar is genoeg veilige parkering om die stadion.

Maar nouja, as jy ’n wêreldbeker wenner afrigter is, is jy ’n wêreldbeker afrigter.

Wanneer jy oorsensitief is vir kritiek en jou koninkrykie aanhou verdedig, gaan niks verander nie.

In Pretoria word daar nie maklik geluister nie.

En daarom sal die pa nog lank vir sy kinders moet sê: “By Loftus was dit lekker”.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button