Bejaarde laat val vir selfoon
’n Selfoondief het ’n bejaarde man se voete onder hom uitgeskop, om hom te beroof.
Mnr. Tollie Botha (74) voel die Sentrale Sakegebied van Middelburg is nie meer veilig vir voetgangers nie, nadat hy van sy selfoon beroof is.
Hy het sowat twee weke gelede sy voertuig ingevat na Middelburg Nissan vir ’n diens.
Omdat hy naby bly, het hy besluit om terug te stap om sy kar te gaan haal.
Op pad soontoe, moes hy vir ’n oomblik wag vir die verkeerslig op die hoeke van Bhimy Damane- en Walter Sisulustraat om na groen oor te slaan.
’n Man het baie naby aan hom kom staan en hy het effens weg beweeg.

“Die oomblik toe ek my voet van die sypaadjie af neersit om te begin stap, het hy van agter af my voete onder my uitgeskop.”
Terwyl mnr. Botha hard neergeslaan het, het die boosdoener sy selfoon uit sy hemp se sak gepluk en laat spaander.
Met bebloede knieë en hande het mnr. Botha by Middelburg Nissan opgedaag, waar die personeel dadelik noodhulp verleen het.
“Ek was verras oor die opregte sorg. Van die vroue het my selfs die volgende dag geskakel om oor my toestand te verneem. Graag wil ek Amanda Steyl, Mary Letsie en Silva Holder bedank vir hulle bystand. Dit is ’n riem onder die hart om te weet dat Middelburg nog mense het wat vir andere omgee.”
•Mnr. Botha voel mense moet egter onder geen omstandighede te voet die sakegebied aanpak nie, omdat booswigte op elke hoek en draai hulle voorlê om te beroof.
