Die bus is vol – Kaylib is op pad doellyn toe
Maak toe die deur die bus is vol! Wanneer klein Kaylib Sampson (12) op pad is doellyn toe, vat hy nie passasiers saam nie.
Om die waarheid te sê, spat hulle soos vrot velle weg, wanneer hy bal onder die arm op loop gaan.
’n Video doen die rondte wat wys hoe Kaylib sewe teenstanders in die stof laat byt, voordat hy oor die doellyn val, in ’n wedstryd tussen Laerskool C.R. Swart en Laerskool Klipfontein.
Kaylib speel vir C.R. se tweede span en het Saterdag ook vir Nkangala se streekspan teen die Leeus op skrumskakel uitgedraf.
Die rugbybloed loop natuurlik dik in sy are, met oom Jannie Brits wat vir die Puma laerskole op losskakel uitgedraf het en oupa Hannes Brits, wat jare by laerskole rugby betrokke was en ook die hoof was van Laerskool Dennesig.
En soos oupa Hannes is Kaylib ’n groot Leeu ondersteuner.
