News

Dogter met omgeehart sterf in haar slaap

Annerien Mills (17), die pragdogter met die omgeehart, is Saterdagmiddag in haar slaap oorlede.

Volgens haar pa, John, het sy die middag ’n bietjie gaan lê. Haar tweelingbroer, Henré, wou haar gaan wakker maak, maar kon haar nie wakker kry nie.

“Sy was die oggend nog fine,” het hy gesê. Haar hart het uit ritme gegaan en het gaan staan.

“Sy is in vrede weg, dit is baie erg, maar ons aanvaar dit.”

Haar ouers en broers sê hulle weet dat sy “nou in haar Hemelse Vader se arms rus.”

Mnr. Mills het Annerien beskryf as “’n dogter met die mooiste glimlag en omgeehart, wat altyd baie positief was en baie lief was vir haar skool.”

’n Onlangse foto van die Mills gesin. Voor is Anneke, John en Joubert. Agter staan Annerien en Henré.

Annerien was ’n graad 11 leerling aan Afrikaans Hoër Meisieskool, waar sy ook deel van die orkes was.
Sy het in graad agt en nege ook in die skool se koor gesing. Die orkes het haar egter so besig gehou, dat sy besluit het om daarop te fokus.

Die skool het ’n besondere boodskap op Facebook gelaat waarin hulle sê: “Ons betreur vandag die afsterwe van ’n geliefde graad 11-leerder, Annerien Mills.

“Annerien, jou plekkie is leeg, jou fluit nou stil, maar jou nagedagtenis leef voort in elke blou Affie. Mag ons Hemelse Vader elkeen wat seer het, vertroos met Sy genade en vrede.”

Annerien word oorleef deur haar ouers, John en Anneke en broers Joubert en Henré.

Hulle het groot waardering vir al die omgee en liefde uit die gemeenskap in hierdie besonder moeilike tyd.

•’n Dankdiens word Woensdag om 10:00 uit die NG Kerk Tygerpoort gehou.

•Annerien was in graad R by Laerskool Middelburg en sou haar graad een jaar by die Koedoekoppe begin, toe die gesin na Pretoria verhuis het.

John en Anneke was geliefd in Middelburg, waar Anneke en John nie net skool gegee het nie, maar Anneke ook die skool se kore help afrig en ’n orrelis in die Witkerk was.
John was ’n departementshoof by die skool.

Anneke se pa, Hennie Miles, was skoolhoof van HTS Middelburg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button