News

Welkomse hof sien Roos as vlugrisiko

Roosmarie van Staden gaan haarself moeilik uit die pekel in Welkom praat, na haar arrestasie verlede week in Vanderbijlpark.

Sy is verlede week in Vandebijlpark gearresteer en na Middelburg gebring, waar die saak nie op die hofrol geplaas is nie.

“Roos” soos sy graag na haarself verwys, is Vrydag Welkom toe vervoer waar sy verskyn het kort na 14:00, en die naweek agter tralies moes deurbring.
Die saak is uitgestel na Maandag, waar borg weer geweier is.

Roosmarie bly in aanhouding in Kroonstad omdat die hof haar as vlugrisiko bestempel het, as gevolg van haar rondtrekkery.

Sy staan tereg op klagtes van bedrog nadat sy na bewering meer as R10 000 se vervoerkostes en lenings by ’n Welkomse vervoermaatskappy, nie terugbetaal het nie.
Tydens haar rit saam met die vervoermaatskappy het sy haar voorgedoen as top bestuurder van Barloworld.

Tydens gesprekke op haar foon in die voertuig het sy die indruk geskep dat sy met Barloworld in kontak was, om te reël vir betaling.
Sy het so geloofwaardig voorgekom dat die bestuurder van die voertuig ook vir haar kontant geleen het, wat Barloworld glo sou terugbetaal, naas die vervoerkostes.

Die hele rit, en Roosmarie se leuens, is op paneelbord-kamera opgeneem.

Die Welkomse ondersoekbeampte is nou in kontak met Barloworld se regsafdeling vir ’n verklaring, wat by die bedrog dossier gevoeg sal word.

Roosmarie het in Januarie vanjaar 16-dae agter tralies deurgebring op ’n Middelburgse diefstalklag van ’n luidspreker, waarop sy later skuldig gepleit het.
Sy is ’n boete van R1500, of drie jaar se gevangenisstraf wat opgeskort is vir drie jaar, opgelê tydens vonnis.

Daarna was sy Benoni toe waar sy werk by ’n skrootmetaalwerf gekry het.
Die werk het egter, soos haar vorige werke, nie gehou nie.

Nadat die vervoermaatskappy ’n R5000 beloning vir haar arrestasie uitgeloof het, is Roosmarie in Vanderbijlpark opgespoor.

Die maatskappy sal die beloning nou tussen twee informante deel, wie se wenke tot haar arrestasie gelei het.

Die saak is uitgestel na einde Junie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button