Man jaag deur garagedeur om van vlamme te vlug
’n Paartjie met twee dogters het bykans alles in ’n verwoestende huisbrand verloor, wat die plaashuis waarin hulle woon se motorhuis en aangeboude woonstelletjie, in puin gelê het. Hulle het gevra om anoniem te bly.
Die gesin, ’n man en vrou en twee dogters van agt en veertien jaar oud, woon in die plaashuis tussen Belfast en Carolina, waar die man ook werk.
Hulle was kort voordat die krag weer om 19:00 op 18 Mei vanjaar sou aankom, besig met takies in die huis.
Die man se bakkie-alarm het afgegaan en hy het op pad na die motorhuis, bolle rook in die gang gesien.
In die motorhuis was sy bakkie reeds heeltemal in vlamme gehul.
Hy het vir sy vrou en dogters geskreeu om die huis te ontruim, waar skoolklere en tasse genadiglik betyds gered kon word.
Die man het toe sy vrou se voertuig deur die motorhuisdeur gejaag na veiligheid, omdat die deur nie elektronies wou oop nie.
Weens beurtkrag was waterdruk op die plaas onvoldoende, omdat die waterpompe nog nie behoorlik na beurtkrag kon water pomp nie.
’n Waterkar is toe nader getrek om die vlamme te help blus.
Bure het ook ingespring om te help.
Die gesin se huisinhoud is deur rook en roet beskadig.
Hul almal se oorblywende klere kom nie skoon nie en kombuisware en kruideniers is ook daarmee heen.
Nuwe matrasse, beddegoed, linne, handoeke en ander daaglikse benodigdhede is ook erg beskadig.
Die gesin het intussen ander, tydelike behuising, op die plaas gekry.
Beide die dogters is in Middelburg skole.
Inwoners wat kan help met skenkings kan 072 639 9066 skakel.
Die dogters dra groottes van 8 – 9 jaar, en 14-15 of “klein” (small) gemerkte klere.
Finansiële bydraes vir die herstel van die gesin se enigste voertuig, wat deur die motorhuisdeur beskadig is, is ook welkom.
Die gesin sukkel ook tans met kos.
“Ons is platgeslaan maar sal weer opstaan, dit het binne minute gebeur, daar was eenvoudig nie tyd vir gryp en vlug nie,” sê die dapper vrou wat intussen ’n voertuig leen om die kinders agter die skoolbanke te kry.
