News

Bakkie wat Melissa tref, jaag oor rooi verkeerslig

Die bestuurder met Melissa van der Westhuysen (35) se bloed op sy hande, het nogsteeds nie navore gekom nie.

Melissa se ma, suster en 15-jarige seun, staar die derde dag na haar brutale dood in die gesig en het nog geen antwoorde oor wie vir haar dood aanspreeklik is nie.

’n Inwoner wat naby die ongelukstoneel in Lilian Ngoyistraat bly, het aan die Middelburg Observer gesê dat dit ’n baie gewelddadige botsing was wat hom Saterdagoggend laat wakker skrik het.

“Ek het wakker geword van ’n slag en het eers na die voorkant van my erf gehardloop. Toe ek om kom na waar die ongeluk plaasgevind het, toe sien ek die bromponie lê op die sementblad van my inry.”

Lees ook:

Bestuurder in tref-en-trap nogsteeds gesoek

Melissa is deur ’n wit of silwer dubbelkajuit bakkie van agter af getref, waar Impalastraat by Lilian Ngoyistraat indraai.

Haar motorfiets het 50 tree verder te lande gekom, en sy ’n paar meter agter die wrak. Haar valhelm, wat vasgegespe was, is op die hoek van Duiker- en Lilian Ngoyistraat gevind.

Die inwoner, wat anoniem wil bly, het gevoel vir ’n pols en dadelik besef sy is oorlede.

“Haar liggaam het tot en met 04:30 daar gelê vir die forensiese ondersoek om plaas te vind.”

Lees ook:

Enkelma doodgery, bestuurder vlug van toneel

Melissa se medewerknemers, wat voor haar gery het, het gesien hoe die bakkie daarna oor die rooi verkeerslig op die hoek van Protea- en Lilian Ngoyistraat gejaag het.

Hulle wil graag ’n beroep doen op inwoners van Lilian Ngoyistraat wat moontlik kameras het wat uitkyk op die straat om hulle beeld na te gaan vir Saterdagoggend tussen 01:00 en 01:30.

Die bakkie, wat reguit oor die verkeerslig gejaag het, kan moontlik gesien word in Lilian Ngoyistraat vanaf die Protea verkeerslig.

Meer inligting kan aan 073 801 7939 deurgegee word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button