Man sterf terwyl hy spannende eindstryd kyk
Terwyl Gerhard van Aswegen (64) Saterdag besig was om die spanningsvolle VRK-eindstryd tussen die Stormers en Munster te kyk, het hy in sy stoel gesterf.
Alle aanduidings is dat hy ’n hartaanval gehad het.
Sy dogter, Marlene, sê alhoewel hy ’n groot Blou Bul-ondersteuner was, het hy daarvan gehou om elke Saterdag rugby te kyk.
Haar ma, Lynn, wou op ’n stadium tydens die wedstryd vir hom iets gee om te eet, maar dit het gelyk of hy slaap.
Hy het nie reageer toe sy roep nie en sy het besef daar is fout.
“My pa het in sy stoel gesterf.”
Mnr. Van Aswegen was tot met sy aftrede ’n paar jaar gelede werksaam by Columbus Stainless as koördineerder van die prosesseringslyne. Hy het 32 jaar daar gewerk.
’n Gedenkdiens word volgende Vrydag (9 Junie) uit die NG Kerk, Suid gemeente gehou.
• ’n Berig oor mnr. Van Aswegen se lewe sal ook in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer verskyn.
•Die Stormers het met 14-10 verloor, nadat hulle vroeg in die wedstryd en ook kort voor die einde, voorgeloop het.
