Cholera is op pad waarsku raadslede
Rou riool stroom al weke lank by die Klein Olifantsrivier in Asaliastraat in.

Dit is onmoontlik vir die munisipaliteit om te sê hy is nie bewus daarvan nie, want die mangat is reg langs die teerpad geleë, waar munisipale werknemers daagliks die poele ontlasting moet systap.
Boonop loop die rou riool nie net in een stroom die rivier in nie, maar in drie verskillende strome wat al reeds ’n rou rioolpoel van bykans 50m² veroorsaak het.
Inwoners rondom die stadion leef nie net met ’n ondraaglike stank saam nie, maar vrees nou ook cholera, wat Dinsdag tydens ’n raadsitting verskeie maal ook deur bekommerde raadslede aangespreek is, met die EFF en DA wat waterkwaliteit in Middelburg bevraagteken het.
Volgens die EFF beteken bloudruppelstatus niks as toetse net by die watersuiweringsaanleg gedoen word nie.
“Daar moet deeglik by huise getoets word,” dring die EFF se Zandile Ngubeni aan.
Afriforum het verlede Vrydag aangekondig dat watermonsters wat deur die burgerregte organisasie, in samewerking met Save Ngwathe, in die Vaalrivier geneem is, positief getoets het vir cholera.
Die monsters is in Parys by die watersuiweringsaanleg, ’n privaat woning, en by ’n punt sowat 10 meter stroomaf van ’n lekkende mangat langs die Vaalrivier geneem.
Beide die toetse by die huis en die mangat het hoë vlakke E-Coli bakterieë in gehad, met die Vaalrivier monster wat positief getoets het vir cholera.

Afriforum sê Vredefort is die volgende brandkol vir ’n moontlike cholera uitbreking weens die feit dat die dorp sy water net een kilometer van die rioollek in die Vaalrivier trek.
Die Tshwane munisiplaiteit in Pretoria staar ’n dodelike krisis in die gesig met die uitbreking van cholera wat reeds die lewens van 23 Hammanskraal inwoners geëis het. Een van die sterftes is in die Vrystaat aangemeld.
Daar stroom al jarelank rou riool in Middelburg die rivier binne, selfs by die Boskrans rioolaanleg.
Plaaslik is daar reeds voorsiening gemaak vir die broodnodige vervanging van die industriële rioollyn wat die afgelope paar jaar al verskeie langtermyn rou rioollekkasies veroorsaak het.
Verskeie mangate op dié lyn, veral die een agter die Dierebeskermingsvereniging en een langs Eastdene, is die grootste sondebkokke wat die rivier bevuil.
Die mangat in Asaliastraat is Woensdag kort voor druktyd besoek waar voëls in die riool geloop het.
Een van die drie strome riool wat uit die mangat stroom, vloei teenaan ’n munisipale braaier en piekniektafel.
Die riool loop reg verby Mhluzi, met Avalon digby die rivier.
Die area waar Botshabelo met Avalon grens, word gebruik vir wieding en groot troppe beeste drink van die besmette water wat eindelaaste Loskopdam toe stroom, waar van die land se meeste uitvoer sitrus onder in die Vallei verbou word.
Munisipale bestuurder, mnr. Mandla Mnguni, kon nie bereik word vir kommentaar nie.
