Vrou sien deur kombuisvenster hoe seuns se selfone gevat word
’n Vrou het gister deur haar kombuisvenster gesien hoe twee hoërskoolseuns se selfone in Olienhoutstraat afgevat word.
“Die man het met sy rug na my toe gestaan, so ek kon nie sien of hy hulle aanhou met ’n wapen of nie,” het me. Saloysa Mostert gesê.
Me. Mostert sê sy was besig om skottelgoed te was, toe sy deur die kombuisvenster gesien het hoe die twee seuns van Hoërskool Kanonkop op die sypaadjie gaan sit.
Sy het nie veel daarvan gedink nie, omdat die skool pas uitgekom het.
Sekondes later het ’n man met ’n swart denimbroek, asook ’n swart baadjie en kaalkop, langs hulle op die sypaadjie kom sit.
“Die man was netjies geklee en het met die kinders begin gesels. Die seuns het selfs op ’n stadium gelag.”
Me. Mostert kon nie hoor wat gesê word nie, maar het nie gedink dat daar gevaar vir die kinders kan wees nie.
Die volgende oomblik het die man opgestaan en met sy rug na haar toe gestaan.
Sy was stomgeslaan toe sy sien dat die seuns hul selfone aan hom oorhandig.
“Weens die feit dat hy met sy rug na my toe gestaan het, kon ek nie sien of hy ’n wapen op hulle gerig het nie.”
Die booswig het weggeloop en die oorblufte kinders het begin wegstap, waarop ’n voertuig een van die seuns opgelaai het.
’n Rukkie later het ’n voertuig, waarin een van die seuns was, by hul hek gestop en me. Mostert se ma gevra of sy nie dalk ’n swart Peugeot gesien het nie.
Me. Mostert weet nie of dit iets te doen het met die selfone wat geroof is nie.
“Ek kan net sê wat ek deur die venster gesien het. Ek het geen voertuig gesien nie. Ek het net gesien toe die verdagte wegloop.”
• Die hoof van Hoërskool Kanonkop, mnr. Martin Fourie, sê hy weet glad nie van ’n voorval waar leerlinge van die skool moontlik beroof is nie.
“Dit is eksamentyd en dit is moontlik dat hulle nie vandag geskryf het nie. Ek sal more daaroor navraag doen.”
