Diep in die donker gang van kabeldiefstalle
Diewe wat elektriese kabels steel maak munisipaliteit platsak
Kanonkop en Dennesig inwoners moes vanmore, buite beurtkrag, in die donker rondtas, nadat kabels weer gesteel is gedurende die nag.
Vroeër die week is ’n kabel van ongeveer 20 meter lank by die Kees Taljaard Stadion gesteel.
Diewe het gedurende beurtkrag gisteraand weer toegeslaan.
Die munisipaliteit steier onder voortslepende kabeldiefstalle.
Elektrisiëns van die munisipaliteit is ook so dun gesmeer soos einde-van-die-maand margarien, omdat daar tussen 500 en 900 klagtes na elke beurtkrag gerapporteer word.
Die munisipaliteit het ook al verskeie maal ’n beroep op inwoners gedoen om polisieman te speel, namens die munisipaliteit, tydens beurtkrag.
Tydens Dinsdag se raadsitting is daar aangedui dat kabeldiefstalle en vandalisme van infrastruktuur meer as R1 miljoen per dag beloop.
Volgens Kanonkop se raadslid Helda de Klerk is munisipale spanne tans besig met kabelvervangings en behoort die krag weer voor 10:00 aan te wees.
Daar word gevrees dat die kabeldiewe hulle lippe aflek vir vanaand se vier ure beurtkrag, wat hulle genoeg tyd gee om die dorp weer in donker te hul, nadat die krag veronderstel is om aan te kom na beurtkrag.
