News

Water gemors, rivier besoedel, munisipaliteit skynbaar min gepla

Die ekologiese skade wat die rou riool lekkasie by die Klein Olifants veroorsaak, is skrikwekkend.

Daar is begin met die vervanging van die hoof rioolpyplyn by die Kees Taljaard Stadion twee weke gelede, waar miljoene liters rou riool reeds uit ’n mangat die Klein Olifantsrivier ingestroom het.

Die pyplyn is al twee weke gelede deur die munisipale sanitasie departement op sekere plekke geblok, sodat die pyp vervang kan word.

Vanoggend was daar weer ’n loopgraaf besig om kanale vir die nuwe pype te grawe.

Die rioollek.

Hy het egter met besoek van die Middelburg Observer botstil gestaan, met geen werkers in sig nie.

Wyksraadslid Helda de Klerk sê dat sy al verskeie navrae gerig het oor wanneer die projek voltooi sal word, maar dat sy nie antwoorde ontvang nie.

Munisipale werkers is al twee weke lank besig met ’npypvervanging.

Haar mede DA raadslid, San-Mari Wait, sit met ’n soortgelyke dilemma aan die anderkant van die dorp by Damstraat, waar ’n foutiewe waterklep al jarelank lek.

Die lekkasie het nou al ’n poel so groot soos ’n klein swembad gevorm.

Taxi-eienaars gebruik water uit die poel om hul voertuie te was en inwoners sê daar was al selfs mense pens en pootjies in die poel.

Die Damstraat waterlek.

Klere word ook glo gereeld in die poel water gewas.

Beide situasies is al verskeie maal deur die raadslede aangemeld, wat sê die munisipaliteit besef nie die skade wat gedoen word nie.

In Damstraat word daar nie net die afgelope paar jare onmeetbare liters water vermors nie, maar groot skade is intussen deur die water in Damstraat aangerig.

Volgens raadslid Wait word daar bloot skouers opgetrek en gesê dat die klep nie herstel kan word nie.

“Die munisipaliteit kan nie vir inwoners preek oor watervermorsing en besoedeling nie, hy vat die voortou as dit daarby kom,” kasty sy.

Soos Suid-Afrikaners maar is maak sekere inwoners van Aerorand lig van die saak en skerts “ons het ook nou ons eie munisipale swembad waar inwoners hulself kan verfris.”

’n Reuse gedeelte van die pad, waar die water al bykans vier jaar lank afstroom, sal oogebou moet word, sê raadslid Wait.

Die ekologiese skade wat die rou riool lekkasie by die Klein Olifants veroorsaak, is skrikwekkend.

Voëls is tydens verskeie besoeke in die rou riool opgemerk.

Inwoners vrees nou ’n uitbreking van Cholera soos in Hammanskraal, waar 23 mense reeds gesterf het weens rioolvuil in die water.

Monsters wat deur Afriforum by Parys in die Vaalrivier geneem is, het ook laasweek positief getoets vir cholera.

Die riool vloei af Loskopdam toe verby Avalon en Botshabelo.

Die koerant het die vermorsing en besoedeling weer onder die direkte aandag van munisipale bestuurder, Mandla Mnguni, gebring.

Hy het egter nog nie na vore gekom met ’n daadwerklike aksieplan om die waterkris te staak nie.

Volgens die bestuurder van sanitasie, me. Lindiwe Silolo, is daar aanvanklik gepoog om die rioolblokkasie in Asaliastraat “uit te suig” maar die poging was onsuksesvol.

Sy het reeds op 10 Mei gesê die kontrakteurs is besig, maar weke later is die probleem erger as vantevore.

Volgens me. Silolo sal die hele rioollyn, en nie net gedeeltes van die pyplyding wat tans vervang word, oorgedoen moet word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button