’n Begrafnisondernemer se voertuig het vanmiddag (Woensdag) omstreeks 14:00 onverklaarbaar aan die brand geraak.
Mnr. André van Wyk (Roseleigh Begrafnisdienste) het bevestig dat een van hul welwillendheidsvoertuie aan die brand geslaan het.
Een van hul ondernemers, Manus du Toit, het gou sake in die dorp gaan doen. Net na die Sasol-vulstasie op die hoek van Lilian Ngoyi- en Joubertstraat het die voertuig skielik gestol. Die volgende oomblik het rook onder die enjinkap uitgeborrel en mnr. Du Toit het uit die voertuig gespring.

Mnr. Van Wyk het sy dank uitgespreek teenoor die mense op die toneel wat dadelik met brandblussers die brand begin blus het, tot die Middelburg Brandweer kort daarna opgedaag het. Hy bedank ook die brandweerlede vir hul blitsige optrede.


Dit is nie bekend of die brand weens elektriese of ander meganiese probleme ontstaan het nie.
