Raaisel verdiep daagliks oor voertuig wat al drie weke by sentrum staan
Die Midwater Sentrum krap kop oor ’n voertuig, ’n silwer Ford Fiesta, wat more (Vrydag), reeds drie weke in die sentrum se parkeerterrein staan.

Twee mans het op 2 Junie die voertuig daar afgelaai.
Op beeldmateriaal kan gesien word hoe ’n wit bakkie en ’n sleepwa met die Ford Fiesta by die parkeerterrein omstreeks 11:33 inry.
Die mans laai dan die Fiesta van die sleepwa af in ’n oop parkering, voordat hulle weer wegry.
Sentrum bestuur is vinnig bewus gemaak van die voertuig en het ondersoek gaan instel.

Buite is nommerplate op wat verskil van ’n registrasie-bewys aan die binnekant van die voertuig.
Die buitenste nommerplaat is: BH28HF GP.
Die binneste is: ERC629GP.
Volgens sentrum bestuur lyk dit of verskeie parte uit die voertuig gehaal is, maar wel binne die Fiesta gelos is, soos ’n karbattery, allerlei drade en ook ’n radio.
Binne in die voertuig is ’n rekening vir Susan Reid van Alberton uitgereik vir R4150 se werk aan die voertuig, wat ’n voertuigdiagnose, insluit.
Die rekening is deur Elshadai Fittment & Supplies uitgereik.
Na ondersoek is gevind dat die besigheid vier jaar gelede geregistreer is.

Die laaste aktiwiteit op die registrasie was ’n kennisgewing in Desember 2022, dat die besigheid onder likwidasie is.
Die besigheid is ook oor dieselfde tydperk gederregistreer, omdat sekere registrasievereistes nie nagekom is nie, soos die betaling van die registrasie fooi.
Dit is verder in die naam van alleendirekteur Susan Engelbrecht geregistreer.
Die nommer wat op die rekening gelys is – 013 243 5338/9 – werk ook nie.
Daar is wel ook ’n Eshaddai Fitting & Machinery Supplies in Klerksdorp gelys, maar die maatskappy het hom van die petalje gedistansieer.
Ongelukkig kan die registrasie van die bakkie of die sleepwa nie uitgemaak word nie.

Daar is ook intussen bevestig dat die voertuig nie gesteel is nie, en dus nie deur die polisie gesirkuleer is nie.
Volgens die sentrum trek die polisie bloot skouers op en sê dis ’n siviele aangeleentheid tussen die sentrum en die eienaar.
Die sentrum reik nou uit na die gemeenskap om die eienaar te help opspoor.
Persone met inligting oor die Fiesta se eienaar, of Elshadai en sy eienaar, word gevra om 013 244 2459 te skakel.
