News

Drie wat na bewering saamgesweer het om Papapavlou te vermoor na Hooggeregshof

Die drie persone wat na bewering saamgesweer het om Raymond Papapavlou (28) te vermoor, het gister in die Groblersdal Landdroshof verskyn, waarna hul saak gevoeg is tot dié van Simoné Papapavlou en Patricia Ray-Lee Smith.

Dié saak sal in die Hooggeregshof in Polokwane voorkom, vanaf 31 Julie.

Daar word beweer dat Phillip Machidi, Calvin Tseka en Paulina Mamalope saamgesweer het om Papapavlou te vermoor.

Phillip Manchidi is op 8 April gearresteer vir sameswering om moord te pleeg.
Manchidi was uit op parool na hy in die gevangenis was vir ’n ander moord en transitorooftogte.

Ma en seun Calvin Tseka en Paulinah Mamalope Mafatle.

Papapavlou is op 4 Oktober 2020 op die plaas Rooikraal, tussen Groblersdal en Stoffberg, in sy bed doodgeskiet.

Die ma en seun, Tseka (31) en Mafatle (57), wat ook daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om Papapavlou te vermoor, het vroeg in Januarie 2023 borg van R2 500 elk gekry. Mafatle was Manchidi se vriendin.

Tseka se borgvoorwaardes het bepaal dat hy twee keer per week by die Silverton Polisiestasie aanmeld, omdat hy by sy werksplek gearresteer is en sy ma se woning te klein is vir hom om ook daar te bly.

Phillip Manchidi.

Tseka en Mafatle is in Augustus verlede jaar in Gauteng in hegtenis geneem.

Die ondersoekbeampte, adjudant offisier Debbie van Zyl, het tydens hul borgaansoek getuig dat beide Tseka en Mafatle telefoonkommunikasie met Patricia Ray-Lee Smith en Simoné Papapavlou gehad het. Hulle het ook glo beide fondse van Smith ontvang, voor Raymond se moord.

Patricia Ray-Lee Smith en haar pa, Martin, buite die hof in Groblersdal in 2020 afgeneem. FOTO: Janine Saayman (Daller).

Daar is tydens Simoné se borgaansoek getuig, dat ’n verhouding tussen haar en Ray-Lee Smith, die motief was vir Raymond se moord.
Smith is kort na Raymond se moord in hegtenis geneem en Simoné byna ’n jaar later.

Ná ’n lang hofstryd is Simoné op borg van R15 000 vrygelaat. Haar mede-beskuldigde, Smith, is uit op borg van R5 000.

Simoné Papapavlou tydens een van haar vorige verskynings.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button