Jong pa sterf in fratsongeluk op pad na jaguitstappie
’n Jong pa van Benoni het Donderdag omstreeks 19:00 in ’n fratsongeluk gesterf op die Dewagendrift grondpad op pad na Kruisrivier vir ’n jaguitstappie.
Hendus Coetzee (36) het van ’n bakkie afgeval, sowat een kilometer vanaf die indraai na die Kruisrivier plaas. Hy het op die toneel gesterf.
Mnr. Francois Swanepoel, wat grond in die omgewing huur, sê die ongeluk het omtrent 200m van sy huis af gebeur.
“Ek het mense hoor gil en gedink dit is ’n roof.”
Hy het sy wapen gaan haal en is na die naaste huis, waar hy verseker is dat daar nie ’n aanval was nie.
Vandaar is hy na die grondpad, waar hy ’n voertuig met twee mans wat by ’n liggaam staan, gekry het.
Mnr. Swanepoel het dadelik vir hulp gebel, asook vir mnr. Marius Verwey (eienaar van die Kruisrivierplaas).
Mnr. Verwey was in Middelburg toe hy die oproep kry. Hy het verneem dat ’n persoon van ’n bakkie af geval en gesterf het.
Hy het mnr. Nico Swart (wat ’n dominee was) opgelaai en hom saamgeneem na die plaas om berading te doen met mnr. Coetzee se ander vriende, wat ook op die plaas was.
Mnr. Gert Kruger, Hendus se oom, sê Hendus het in Brakpan gebly en het vir meer as 15 jaar elke jaar op ’n ander jagplaas saam met familie gaan jag.
Dit was die eerste keer dat hy saam met hulle by Kruisrivier sou gaan jag.
Hy het vertel dat Hendus ’n enkelpa was, wat álles vir sy tienjarige seuntjie, Arno, gedoen het, “Sy kind was sy alles. Hy het hom selfstandig en gedissiplineerd grootgemaak. Op die manier hoe hy sy pa se afsterwe hanteer, kan ons sy pa in hom sien.”
Mnr. Kruger het Hendus beskryf as ’n “fantastiese mens en ’n nederige man wat altyd ander wou help.”
Hendus het ’n ingenieursbesigheid saam met sy broer in Johannesburg bedryf.
Hy word oorleef deur klein Arno, sy ouers Stefan en Bets Coetzee, suster Chriska, broer Hanru en ouma, Christien Kruger.
Die familie is besig om begrafnisreëlings te tref en beplan om Dinsdag of Woensdag die begrafnis uit die Gereformeerde Kerk in Benoni te hou.
“Dit sal ’n celebration van Hendus se lewe wees.”
• Mnr. Kruger wil graag die speuders van die Groblersdal Polisie, asook die Groblersdal Patologiese Dienste bedank vir die professionele manier wat hulle hom en sy vrou hanteer het toe hulle vir Hendus moes gaan uitken.
Hy sê ook dankie vir Bellum Sekuriteit wat onmiddellik, op sy versoek, hulle na die toneel gehaas het om die ongelukstoneel te bestuur tot die polisie en patologiese dienste opgedaag het.
