Gaste kry nie net koffie nie, maar ook ’n seekoei
Die gaste by die Mossienes Koffiehuis het baie meer as hul koffie gekry, toe hulle vanaf die koffiehuis se dek, ’n seekoei gesien het.
“Ek is al sewe jaar by Mossienes en dit is die eerste keer dat ek ’n seekoei sien. Van ons gaste het gesê dat hulle so rukkie gelede ook ’n seekoei in die omgewing opgemerk het,” het mnr. Jacques Strydom (Mossienes) vanoggend gesê.
Die seekoei het van omstreeks 10:00 tot 14:30 op die eiland oorkant Mossienes in die Olifantsrivier gewei.
Op 28 Desember 2022 het me. Elaine Joubert vanaf Kwazulu-Natal op die N11 gery toe sy ’n seekoei oor die pad sien loop het vanaf De Villa Lodge se rigting.
Hulle het gelukkig stadig gery en het versigtig by die seekoei verby gery.
Mossienes en De Villia is geleë langs die N11 onder Loskopdamwal (naby Damwal Slaghuis).
• Verlede jaar het drie seekoeie, ’n bul, koei en kleintjie, vir weke in die Klein Olifantsrivier gekuier.
Hulle het daarna opgebeweeg in eMalahleni se rigting waar hulle heen en weer in die Olifantsrivier baljaar. In hierdie tyd het die kleintjie verdwyn en word vermoed dat hy meegesleur is toe beide die Middelburg- en Witbankdam se sluise oop was en die riviere in vloed was.
Die twee seekoeie is later in mnr. Jumbo van der Merwe se plaasdam, op die Zaaihoekpad, buite eMalahleni gevang.
Hulle was voor dit ’n rukkie in die dam, waarna hulle terugbeweeg het in die rivier en toe teruggekeer het na sy plaasdam.
’n Elektriese heining is om die gebied aangebring, waarna ’n boma gebou is om hulle in te lok en hulle uiteindelik in September 2022 gevang is.
