Kontrakteur sterf nadat hy in riool val
Miljoene liters rou riool vloei na Middelburg vanuit Hendrina se opvangsgebied, waar onverwerkte riool van derduisende Kwazamokuhle inwoners by die Klein Olifantsrivier instroom.
Boere stroomaf kla al meer as ’n jaar oor die sporadiese riool lekkasies, wat nie net in ons krane beland nie, maar ook op ons borde.
Boer Samuel de Lange sê dat sy kudde van meer as 300 beeste aan die rou riool drink en dat hulle maer en siek voorkom.
Hy het ook al onverklaarbare beesvrektes gehad.
Hy sê dat ’n rioolaanleg op sy plaas gebou is, en dat daar sowat drie weke gelede begin is om nuwe pype te installeer.
’n Kontrakteur is egter tydens die installasie dood, nadat hy in die rioolaanleg geval het.
Werk is na die werker se dood summier gestaak.
Mnr. De Lange, wie se plaas aan Kwazamokuhle en ’n informele nedersetting grens, sê dat hy, in plaas van heinings, ’n diep sloot op sy grond gegrawe het om veediewe van sy grond af te hou.
“Die riool stroom nou by die sloot af, direk by die rivier in, boere onder my is ook al raadop.”
Dit blyk verder dat die rioolaanleg weens geblokte pype byna tot stilstand gekom het, omdat nie ’n druppel behandelde water by die uitloop Maandag bespeur kon word nie, tydens ’n besoek van Hendrina se VF+ raadslid Corrie Wolmarans en ’n amptenaar van die munisipaliteit.
“Dit is problematies omdat al die water, insluitende die gryswater, nou oral langs die rioollyn van Kwazamokuhle se kant af uitborrel, dit is die eerste maal dat ek sien die uitloop is droog.”
Raadslid Wolmarans sê dat daar al verskeie maal by hom gekla is oor die voortslepende probleem.
“Daar is altyd verskonings, die keer word daar op ’n hoëdruk watertrok gewag sodat die rioolpype uitgespuit kan word,” sê hy.
Hy kan egter nie sê wanneer die trok beskikbaar gaan wees nie, omdat daar regdeur die Groter Steve Tshwete Munisipale area, verskeie rioolblokkasies is.
Plaaslik is die Klein Olifantsrivier ook maande lank deur rou riool besoedel in Asaliastraat waar pypvervanging ook die probleem vererger het.
“Die gebrek aan basiese kundigheid is die probleem,” meen Wolmarans.
Wat hom egter meer bekommer, is die feit dat die besoedelde water “beslis Middelburg se krane bereik.”
Lekwa Munisipaliteit is onlangs ’n boete van R70 miljoen opgelê weens rioolbesoedeling wat ’n watermonster buite Parys, positief laat toets het vir cholera.
Plaaslike raadsledede het tydens twee vorige sittings die vrees uitgespreek dat die dorp in Hammanskraal se voetspore gaan loop, indien sanitasie nie vinnig aandag geniet nie.
“Jy sal nie glo wat kom uit die pype as dit skoongemaak word nie, blikkies, skoene, klerasie, doeke en allerhande goed wat beslis nie in mangate gegooi, of by toilette afgespoel moet word nie,” kla raadslid Wolmarans.
Hy het reeds die probleem by munisipale bestuur aangemeld en sal persoonlik vordering monitor.
De Lange sê weer dat die rioollekkasies in Middelburg en Hendrina dalk ’n saak vir die Groen Skerpioene is.
Hy glo ook nie dat ’n watertrok die einde van die beproewing gaan wees nie, “daarvoor moet nuwe pype aangelê en gekoppel word, maar hier sit ons, met drie weke se rou riool van Kwazamokuhle en die plakkerkamp en dele van die dorp.”