Jemél Jacobs het net kans gehad om haar drie kinders te gryp en na buite te hardloop, voor hul huis in vlamme verwoes is.
“Ek het nog terug gehardloop om ons baba se karstoeltjie te gryp, maar daarna kon ek niks sien nie.”
Die trauma en moegheid is duidelik sigbaar op Braam en Jemél se gesigte as hulle vertel van die gebeure Maandagmiddag toe hul huis in Van Elderstraat (Gholfsig) heeltemal afgebrand het.
Braam was by die werk en Jemél was besig om kos te maak in die kombuis vir hul twee kleuters Gustav (3) en Chloë (18 maande) en hul twee maande oue baba, Zak.
Jemél sê sy “het iets geruik maar was nie seker of dit binne of buite was nie.” Toe sy opkyk, het sy die vlamme gesien.
“Ek het die foon gegryp, Braam gebel en geskree: ‘ons huis brand, ons huis brand!”
Dieselfde oomblik het sy hul jongste, Zak, op die bank gegryp en gehardloop om die ander twee kinders te kry. “Ek het al drie in my arms na buite gesleep en in die kar gesit.”
Op hierdie tydstip het sy agtergekom sy het nie ’n karstoeltjie vir klein Zak nie en is weer die huis in om die stoeltjie te gryp.
“Gustav het agter my aangeloop en gesê: ‘Mamma…brand. Mamma kom! Chloë het ook agter hom aangekom.”
Terwyl sy in die rook die huis in is om die stoeltjie te gryp, het die vensters en ligte begin bars en het sy weer na buite gehardloop, om saam met die kinders in die kar vir Braam en die brandweer te wag.
Hulle moes magteloos toekyk hoe alles tot as verbrand.
Braam en Jemél sê hulle is dankbaar dat nie een van hulle beseer is nie, maar die hartseer lê diep in hul oë as hulle dink aan al die sentimentele artikels wat tot as verbrand is.
Hulle het Woensdag gaan kyk of daar enigiets in die puin oor is, maar vir buiten ’n paar stukkies klere, is daar letterlik net as waar hul huis eens was.
“My hart skeur uit my bors. My trourok, sy troupak, die canvas wat gemaak is wat die persoon geskilder het op ons troue, ons kinders se kamers…álles wat ons opgebou het in vyf jaar…dis net weg.”
Braam vertel dat hy die grasdakhuis agt jaar gelede gekoop het. Hulle is vyf jaar gelede getroud en hy onthou hul spesiale herinneringe in die huis.
“Dit het gevoel of ons in die Bosveld bly…”
Terwyl hulle tussen die as rondgekrap het, was hulle albei verstom toe hulle op hul Bybels afkom.
“Sewe van ons agt Familie- en Kinderbybels het niks oorgekom nie! Een van die Kinderbybels was nog in plastiek en het op ’n plek gelê waar dit erg gebrand het. Buiten vir merkies op die plastiek, het die Bybel self geen skade nie! Dit is net die krag van die Here!”
In al hul hartseer, ervaar hulle in hierdie tyd “die seën van die Here en Middelburg se mooi omgeeharte. Ons het die dorp nou uit ’n heel ander oogpunt gesien. Dankie vir familie en vriende, maar dankie ook aan elke persoon wat ons nie ken nie, wat ons ondersteun en bydraes gegee het, hoe gering ook al, alles word waardeer.”
Die gesin gaan tans tuis by Braam se ouers en hulle is reeds oorval met skenkings van regoor die dorp.
“Ons het nie nou pakplek nie en is onseker hoe lank ons hier gaan wees. Persone wat nog iets wil gee is welkom om vir ons koopbewyse te gee, wat ons dalk later, as ons ’n ander byplek het, kan gebruik om goedjies vir ons huis aan te koop.”
Jemél sluk die trane terug as sy dink dat hulle álles, van meubels tot die basiese klerasie vir hulle en die kinders weer moet begin bymekaar maak.
“Ons weet die Here sal voorsien, hy voorsien altyd.”
• Hulle weet nie op hierdie stadium wat die brand veroorsaak het nie. Braam het egter wel genoem dat daar ’n veldbrand naby hul huis was. Dit laat die vermoede bestaan dat een van die vonkies moontlik met die sterk wind aangewaai is tot op hul grasdak.

