Observer Daller

Muishonde duik oral in Groblersdal op

Gebande muishonde word die afgelope paar maande op verskeie plekke in Groblersdal opgemerk en sorg vir groot nuuskierigheid onder inwoners.

’n Hele familie gebande muishonde het die dreineringspype agter Obaro Groblersdal hul nuwe tuiste gemaak en sorg die afgelope paar maande vir groot nuuskierigheid onder inwoners.

Die Observer Daller het onlangs ’n foto van ’n gemeenskapslid, Elsie Griessel, ontvang waarop die gebande muishonde te sien is waar hulle heerlik in die son lê en bak terwyl hulle hulself trommeldik eet aan avokadopere wat van ’n nabygeleë boom afval.

A brick wall with three small, diamond-pattern windows and pipes beneath. The ground is a mix of concrete and patches of grass, with a calm, deserted feel. There are a few mongooses visible near the pipes.
Die gebande muishonde wat by die dreineringspype agter Obaro in Groblersdal te sien is.

Volgens Griessel word die diere reeds die afgelope twee maande byna daagliks agter Obaro opgemerk. Sy kon egter al agt gebande muishonde tel wat gereeld onder die boom uitspan en aan die vrugte kom smul.

Die Observer Daller het reeds in April die eerste berig ontvang van gebande muishonde wat in Groblersdal opgemerk word. Middel-April het nog ’n gemeenskapslid, wat verkies om anoniem te bly, ’n foto van vier gebande muishonde ingestuur.

Volgens dié bron is dit nie die eerste keer dat die diere in die dorp gesien word nie. Hulle word glo gereeld in die omgewing van Sasko in Wesstraat opgemerk en daar is ook al ’n aantal van hulle by die NG Kerk in Groblersdal gesien.

A mongoose crosses an empty road in an urban area, viewed from a car interior. Trees and a traffic light are visible under a partly cloudy sky.
Een van die gebande muishonde wat in Wesstraat naby Sasko in Groblersdal gesien is. Foto: Verskaf/ Anonieme bron.

Griessel het ná die eerste waarnemings ook verskeie foto’s aan die Observer Daller gestuur van gebande muishonde wat in erwe in Haarhoffstraat rondbeweeg. In een erf is soveel as 12 van die diere opgemerk.

Sy vertel verder dat hulle steeds gereeld daar opgemerk word, en dat verskeie van die diere ook in die kanaal en by die proefplaas naby Haarhoffstraat voorkom, waar hulle dikwels gesien kan word.

Mongooses can be seen in a serene back garden with lush green grass under a large tree. Bright sunlight highlights the distant field, adding warmth to the calm setting.
Gebande muishonde wat in Haarhoffstraat in ’n erf gesien is.

Hoewel dit nie ongewoon is om ’n gebande muishond in die Vallei-omgewing raak te loop nie, wek die feit dat hulle nou in die besige dorpsgebied voorkom, tog kommer en nuuskierigheid onder inwoners.

Die teenwoordigheid van die diere in die dorp kan moontlik verband hou met beskikbare kosbronne of veranderinge in hulle natuurlike habitat, maar die presiese rede hiervoor bly onbekend.

Inwoners word aangemoedig om bewus te wees van hulle omgewing en versigtig te wees indien hulle op die diere afkom.

•Het jy al een van hierdie gebande muishonde in Groblersdal opgemerk of dalk iets anders interessant in die dorp opgemerk? Laat weet gerus die Observer Daller en stuur foto’s of video’s na 082 575 7016 of e-pos news@daller.co.za.

Lees ook: Kranspoort hou kunsnaweek in Raasblaarsaal

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button